Die twincessies – 5 maande oud

Mamma se meisiekinders is sowaar vandag al 5 maande oud. Ek wou so graag gereeld oor hulle blog, maar ag, tyd vir alles is daar net glad nie!

Van al my goeie voornemens om aan te hou borsvoed, het toe nie veel gekom nie. Ek het Wilna heeltemal oorgesit op formulemelk in die dag en haar net snags aan my laat drink en vir Elisna moes ek van so 16 weke af formulemelk ekstra gee, want daar was net nie genoeg melk vir haar nie. Ek het op 18 weke heeltemal opgegee om te borsvoed en het nie eens nodig gehad om pille te drink om my melk weg te vat nie en dit was ook nooit eens vol dat dit seer geword het nie. En twee weke later was daar nie meer ‘n druppel melk nie.

Die twins is op hierdie stadium darem byna ewe groot en is ek bly daaroor, was vir my so sleg dat Lala so baie kleiner was as haar sussie. En op ‘n stadium het sy haar sommer heeltemal verbygevat!

Ons was einde Desember by ‘n pediater met hulle omdat ek net nie verder kon aangaan nie. Die alewige gehuil het my heeltemal ondergekry en was ek van mening hulle het refluks. Hy het egter besluit dis koliek en vir hulle medisyne gegee om hulle te kalmeer…

En eintlik was my ma die hele rede vir die probleem. Sy het besluit hulle moet kos kry, want dis hoekom hulle so baie huil. En as ek nie vir hulle gaan kos gee nie, dan help sy nie verder met hulle nie. Nie dat sy vreeslik help nie, maar dit was die laaste strooi. Ek het net gevoel ek kan nie verder nie!

So toe begin ek maar vir hulle kos gee. En die volgende 2 weke het Elisna elke aand gehuil of sy vermoor word. Toe besef ek eers dis die kos en hou op om vir hulle te gee. En daar is die gehuil ook sommer minder. Hulle het vandag weer vir die eerste keer daarna kos gekry, hoop die keer gaan dit beter.

Ek het ‘n week terug gaan medisyne kry by die apteek vir refluks. Dis vrek duur, maar lyk tog of dit werk. Ek sal sowaar enigiets probeer as dit sal help!

En verlede Maandag het ek weer begin werk. My vorige werkgewer het lankal aangebied om iemand te betaal om na die twins te kyk as ek tog net weer sal werk en ek het toe maar besluit om van sy aanbod gebruik te maak. Ons het ‘n vrou gekry om na hulle te kom kyk terwyl ek werk – van die huis af!

Dis so wonderlik om te sien hoe die klein mensies ontwikkel en hoe hulle verskil. Lala is die moeiliker een van die twee, wil heeldag in die arms wees en huil oor alles. Maar glimlag baie makliker as Bekkie. Sy rol al, maar verkies om op haar rug te lê en met haar voete te speel. En Bekkie rol en probeer kruip. Sy glimlag nie so maklik nie en skree as jy nie gou genoeg aandag gee nie. Albei het ook al begin om hard te lag, maar Bekkie verkies die laaste tyd om te gil.

Soms raak hulle vir my net te veel, maar ek is vir hulle so baie lief en sal hulle vir niks verruil nie!

NS: Met my bruinoogseunskind gaan dit darem ook baie goed, ek voel net so jammer vir hom oor ek hom so afskeep. Hy begin more met Graad 5.

Published in: on Januarie 17, 2012 at 8:08 nm  Comments (2)  

Geseënde Kersfees

Published in: on December 24, 2011 at 11:53 vm  Lewer Kommentaar  

Die twincessies – 65 dae oud

Vandag kan ek eerlik sê dit gaan goed met ons, behalwe dat ek kan doen met ‘n bietjie meer slaap!

Die laaste paar weke was vir my baie erg en ek het teenoor almal wat wou luister genoem dat babas eintlik vreeslike goed is, al wat hulle doen is drink, poep en skree!

Dit het my heeltemal begin onderkry. Sommige dae het dit vir my gevoel of hulle net heeldag wil drink en kry ek nie kans om te eet, bad of selfs te piepie nie!

Met die twins se 6 weke besoek aan die kliniek, was Lala amper ‘n kilogram ligter as Bekkie. Die suster het net gesê ek moet sorg dat sy elke 2 ure drink en was nie daarvoor te vinde dat ek uitmelk nie, want dit veroorsaak “nipple confusion”.

Verskoon my, maar hulle drink soms meer gereeld as elke 2 ure en dis nie verwarring nie maar voorkeur en as jy die regte botteltiete gebruik (soos Nuk wat vrek duur is) behoort jy nie daardie probleem te kry nie. Ek het my laaitie met groot sukses aan die bors en bottel laat drink.

Ek het toe besluit om vir Lala formulemelk te gee – maar sy sou steeds aan my ook drink. Aanvanklik was dit 3 bottels ‘n dag en dit was nie baie lank nie, toe verskil die twins 500 gram!

En daarby was Lala se velkeur nou dieselfde as die van Bekkie en die blou kringe om haar ogies weg! Dit het my laat wonder of sy nie ook, nes ek, sukkel met bloedarmoede nie. Ek het egter toe vir haar net 2 bottels formulemelk ‘n dag begin gee, want dit wou voorkom of sy beter suig wanneer sy aan my drink.

Maar van Sondag af het ek toe besluit om haar net 1 bottel formulemelk ‘n dag te gee, want die geldjies is maar skraps.

Maandagmiddag het ek byna nie oorleef nie. Die twins het byna die hele middag omgeskree en niks wat ek gedoen het, wou help nie. Ek het Sondagaand springmielies met suiker verorber en tot die gevolgtrekking gekom dat dit die probleem was.

Woensdagoggend het die twins 1:00 wakker geword om te drink en het Lala nie voor 5:00 weer geslaap nie. Ek was op my einde! Het haar selfs 65 ml borsmelk uit ‘n bottel laat drink wat sy afgesluk het asof sy nog nooit kos gekry het nie. Ek was egter op daardie stadium nie by genoeg om te besef dis oor sy nie genoeg melk uit my uit kry nie!

Woensdagaand het sy eers aan die slaap geraak nadat sy in 2 en ‘n half uur se tyd 2 bottels van 100 ml elk uitgedrink het!

Dit is toe dat ek besef my kind is permanent honger en dis hoekom sy permanent wil drink. Ek het toe besluit om haar formulemelk te gee wanneer sy ookal daarna sou vra om te drink en vir Bekkie rooibostee tussen voedings te gee.

Verder tot die bloedarmoede storie het ek ook my eie teorie. Daar word gesê dat babas met genoeg yster gebore word vir die eerste 6 maande en dat hulle sowat 50 % van die yster wat hulle nodig het, van borsmelk kry. Indien die ma egter sukkel met bloedarmoede en die baba ook, kan dit dan nie tot gevolg hê dat die baba in die eerste plek met te min yster vir 6 maande gebore word nie? En verder dat daar nie genoeg yster in die mamma se melk is om die daaglikse behoefte in te kan voorsien nie? Bekkie lyk en aard meer na haar pa en Lala lyk en aard meer na my. Indien dit dan ook die geval is dat sy nie bloedarmoede het nie, kan dit verklaar waarom sy floreer op my melk (tesame natuurlik met die feit dat sy baie sterker drink as Lala) en Lala meer nodig het as om net aan my te drink.

Ek het Woensdag opgelet na hoe die twins drink. Bekkie suig en sluk, suig en sluk. Somtyds suig sy 2 keer en sluk dan, maar nie meer as 2 keer nie. Lala suig meestal 3 keer voor sy sluk, sommige kere selfs 5 keer! Dit laat my dink sy suig te swak en die “let down” refleks tree nie in werking wanneer sy drink nie, met die gevolg dat sy permanent wil drink. Daarom dat sy wel nat en vuil doeke gehad het, maar so bleek was en nie na wense gewig opgetel het nie. Dis my mening en ek mag verkeerd wees, maar sy was nooit in so ‘n toestand dat dit nodig was om ‘n dokter te gaan sien of so iets nie. En as ek reg is oor die bloedarmoede, is die formulemelk in elk geval vir haar beter. En soos sy nou drink, kry sy “the best of both”.

Want ek wil nie Lala heeltemal van my speen nie! Wanneer die twins in die oggend wakker word (hulle word gewoonlik saam of binne 10 minute na mekaar wakker), drink hulle aan my vir sowat 20 minute (Bekkie drink selde langer as dit en dan weet ek Lala gaan nie al haar energie vermors en aan die slaap raak terwyl sy nie veel gekry het nie en dan nie ‘n bottel kan drink nie) en dan kan hulle elke 3 ure daarna weer aan my drink. Lala kry dan ‘n bottel formulemelk en indien Bekkie wil drink voor 3 ure om is, kry sy rooibostee. Tussen die voedings kry ek dan kans om uit te melk en met slaaptyd drink Bekkie aan my en Lala kry ‘n bottel met moedersmelk. In die nag drink hulle dan ook aan my.

Daarom dat ek vandag weer hoop het vir ons! Bekkie is nie baie erg oor die rooibostee nie, maar dit gaan baie goed en sy het nou al ‘n paar keer eers vir ‘n voeding gehuil as die 3 ure amper om is! En my Lala glimlag al hoe meer en wil begin gesels!

Ek weet daar is baie mense (veral die wat glo “breast is best”) wat van my verskil. Ek glo dit ook, maar op die ou end gaan dit oor wat werk en dink ek ‘n ma wat kan funksioneer is selfs nog belangriker.

Ek kon net nie langer so aanhou nie, en my arme man was seker al moedeloos met sy vrou wat permanent in trane is!

Published in: on Oktober 21, 2011 at 4:10 nm  Comments (6)  

Die twincessies – 5 weke oud

Ek het iewers gelees as jy borsvoed en vermoed jou baba suig swak of kry te min melk, kan jy jou na ‘n voeding uitmelk en dit vir baba gee om te drink as sy wil.

Ek het toe besluit om dit te probeer:

Ek het my die eerste dag 3 keer uitgemelk as Bekkie klaar gedrink het (Lala het ook gedrink, maar ek het vermoed sy suig swakker en dan albei van die bors afgehaal). Elke keer het daar aan die kant waar Bekkie gedrink het, niks uitgekom nie en aan die ander kant waar Lala gedrink het, 20 ml! En sy het dit elke keer alles opgedrink – met ‘n medisyne botteltjie! En toe Bekkie 17:30 gedrink het, het Lala geslaap en het ek besluit om haar te los en alles uit te pomp. Bekkie se kant was weer leeg en die ander kant het 80 ml gehad – en net na 18:00 het Lala dit alles gedrink!

Die tweede dag het ek dit weer drie keer gedoen en het Lala 38 ml ekstra gekry om te drink. Ek het haar egter nou uit ‘n glas laat drink om tepelverwarring te voorkom. Die derde dag kon ek net een keer uitpomp, die ander twee kere wat ek probeer het, was Lala se kant ook leeg!

Vandag is die vierde dag en het ek net een keer probeer, maar was albei kante weer leeg!

Ek het Lala en Bekkie vanmiddag geweeg nadat hulle gebad het. Albei het 100 g gewig opgetel van Saterdag af en weeg Lala nou wat Bekkie geweeg het by geboorte (2.5 kg). Dit wil dus lyk of dit beslis gewerk het.

Ek is so dankbaar my ou klein dogtertjie word ook groot! Bekkie weeg al 3 kg!

Published in: on September 21, 2011 at 7:44 nm  Comments (4)  

Die twincessies – 4 weke oud

Ons prinsessies is sowaar vandag al 4 wekies oud. Dit is net te erg hoe vinnig die tyd vlieg…

Published in: on September 14, 2011 at 8:04 vm  Lewer Kommentaar  

Die Twincessies – 22 dae oud

Ons twee prinsessies word groot, Bekkie dra nou al Newborn klere en weeg 2.85 kg en Lala weeg 2.5 kg en ek het gister ‘n sak vol Tiny Baby babygrows uitgehaal wat nie meer vir haar pas nie!

Published in: on September 8, 2011 at 5:36 nm  Comments (2)  

Die Twincessies

Ons is elf daggies oud!

Published in: on Augustus 28, 2011 at 12:50 nm  Comments (8)  

Die geboorte van ons tweeling

Ons tweeling is toe op Woensdag, 17 Augustus 2011 gebore.

Op Dinsdag, 16 Augustus moes ek weer kliniek toe gaan vir my maandelikse swangerskapsondersoek. Nog elke keer wanneer Lizzy, die verpleegster of wat sy ookal mag wees, my bloeddruk geneem het, was dit hoog (180 / 100), maar wanneer ek dan by die suster kom en sy dit weer neem, is dit normaal. Dit was later nie eens meer vir my snaaks nie, almal aan wie ek dit genoem het, het opgemerk dat Lizzy nie kan bloeddruk neem nie! En hulle het elke keer iets gekry om mee fout te vind, so ek was elke keer op my senuwees as ek moes kliniek toe gaan en glo dit was die rede vir my hoë bloeddruk.

Ek kan net noem dat ek ook een keer ‘n maand na ‘n privaatdokter gegaan het en my bloeddruk daar elke keer normaal was!

Toe ek egter verlede Dinsdag by die suster instap, noem sy dat sy gehoor het die staatshospitaal het ‘n beleid dat alle tweelinge per keiser gebore word en dat hulle jou nie die kans gun om normaal te probeer geboorte skenk nie. Ek was sommer op die plek omgekrap en toe sy my bloeddruk neem, is dit 150/ 110! Sy het my dadelik na die hospitaal gestuur om ‘n dokter te gaan sien.

By die hospitaal aangekom, was my bloeddruk nog hoër – die onderste telling was 127! Hoe meer ek probeer verduidelik het dit is omdat ek my ontstel het, hoe minder wou hulle luister en het die dokter my net daar in die hospitaal opgeneem en is ek dadelik medikasie gegee. Ek het wel uitgevind dat hulle geen probleem het daarmee dat ‘n tweeling normaal gebore word nie – hetsy daar nie komplikasies (soos hoë bloeddruk!) is nie…

Ergste van dit alles is dat my man nie eens by was nie! Hy wou so graag die Maandag al gaan visvang het, maar as gevolg van sneeu kon hy nie. Hy was van Maandag af met verlof in afwagting op die tweeling se geboorte. My skoonpa se vrou het my dus kliniek en hospitaal toe geneem en kan sy so uitputtend wees dat dit enigiemand se bloeddruk nog meer sal laat styg!

Na nie baie lank nie het hulle weer my bloeddruk geneem en was die onderste telling reeds onder 90! Dit was vir my genoeg om te glo dit was bloot net oor ek my ontstel het en nie oor dit enigiets met my swangerskap te doen gehad het nie.

Daarna het ‘n ander dokter my besoek en het ek haar gevra of dit in orde sal wees as ek saam met my man huistoe gaan sodra hy by die hospitaal aankom – hy was in tussen inderhaas oppad terug – en het sy ingestem omdat my bloeddruk so gedaal het.

Ek het toe saam met hom huistoe gegaan en my goed gaan kry en het dit net vir my beter gevoel dat hy my hospitaal toe vat. Hy het tot laat by my gebly en was ek maar baie emosioneel en hartseer toe hy moes ry.

‘n Hospitaal is glad nie juis slaapvriendelik nie! Die laaste suster was na 23:00 by my, want dan wil hulle na die babas se hartjies luister en dan wil hulle my bloeddruk neem en dan is dit dit en dan is dit dat! En toe ek uiteindelik kan slaap, toe begin ek kontraksies kry!

Ek het besluit om nie dadelik ‘n suster te roep nie en het so aangesukkel tussen probeer slaap en kontraksies tot een ± 24:40 kom kyk het of alles reg is. Ek het aan haar genoem dat ek kontraksies kry en het sy my ondersoek om te kyk of ek wel in kraam is en was ek reeds 5 cm ontsluit.

Ek is saam met haar na die kraamteater en het haar gevra of ek solank my man kon laat kom. Sy het gesê dit is reg, want al kon ons nie met sekerheid weet hoe lank dit sou neem voor die babatjies gebore word nie, was dit moontlik dat dit baie gou kon gebeur.

Ek het toe probeer om hom te bel, maar kon hom nie wakker kry nie. Ek het toe maar my ma gebel, want sy is ‘n ligte slaper, maar sy was in elk geval wakker. Na ‘n ruk – wat vir my soos ‘n ewigheid gevoel het! – het my man by die hospitaal aangekom en het die lang wag begin.

By tye het ek bietjie geloop en dan was die pyne meer hanteerbaar, maar was daar nie meer veel energie in my oor om dit te kon volhou nie en moes ek ongelukkig lê. Teen die tyd dat die nag en dag personeel skofte geruil het, was ek reeds 8 cm ontsluit en wou hulle my water breek, maar het ek gevra dat hulle net nog ‘n rukkie kans gee.

Teen ongeveer 8:00 het hulle toe wel my water gebreek, want ek was toe reeds 9 cm ontsluit. Na 9:00 was ek ten volle ontsluit, maar toe was die kontraksies nie sterk genoeg dat ek wou of kon druk nie en al weet ek nie hoe ek dit verstaan het nie (al die personeel behalwe vir die vrouedokter, is anderskleurig) het ek die afleiding gemaak dat die dokter vir die suster gesê het om my reg te maak vir die teater.

Ek dink nie ek het al ooit in my lewe so gebid soos toe nie, want al het ek net oomblikke vantevore vir my man gesê ek kan nie meer nie, wou ek beslis nie na amper 9 ure se kontraksies en die breek van my water gaan vir ‘n keiser nie!

Gelukkig het die suster tot my redding gekom deur die dokter te vra om haar eers ‘n kans te gee. Sy het vir my ‘n drup en induksie gegee en seker nie 5 minute later nie, toe lê die eerste baba op die bed.

Ek moes op my sy lê sodat die suster die drup kon insit en toe die pyne begin, het sy gesê ek moet op my rug draai. Ek wou nog my man vra om my te help, maar hy was nie daar nie! Die suster was nie by my nie en wou ek nog weet wat gaan aan, toe voel ek net nou moet ek druk! Die suster sit toe klampe aan die naelstring en knip dit en toe kom my man weer ingestap. Al wat ek kon sê, was “Liefie!”

En toe kry ons ‘n verrassing: ons seuntjie is ‘n dogtertjie! Die suster het dit vir my gewys en haar op my bors neergelê vir ‘n oomblik.

Die suster het toe gevoel hoe ver is die ander een en het gesê sy is naby en lê ook reg (ons het dit egter geweet, want met die laaste paar sonars het albei kop ondertoe gelê en het die dokter ook die vorige middag ‘n sonar geneem om na hulle te kyk) en dat ek kan druk om haar uit te kry.

Weer was net een druk nodig om die hele babatjie op die bed te laat lê en is ons tweede dogtertjie om 10:10, slegs 10 minute na haar sussie, gebore.

Ek het gevra dat haar pa haar naelstring kon knip en al was die suster aanvanklik huiwerig, het sy toe tog ingestem dat hy dit doen. Weer is vir my gewys dit is ‘n dogtertjie en is sy vir ‘n oomblik op my bors neergelê.

Na daar na hulle gekyk is, is hulle broeikas toe en moes ek die plasentas uitdruk en ‘n skeur toegewerk word (wat natuurlik die gevolg was van die vinnige geboortes). Gelukkig het die twee plasentas saamgegroei en hoef ek dus net een uit te gedruk het – wat byna so groot soos een van die babas was! Die toewerk van die skeur was aaklig en het dit gevoel of die suster nooit gaan klaarkry nie.

Daarna het ek opgestaan en kamer toe geloop, my goed gekry om te gaan bad en ‘n vinnige bad gaan vat. Ek sou veel eerder wou stort, maar die stort se water wou nie warm word nie en moes ek maar bad.

Toe ek klaar gebad het, het ek en my man na die babakamer gegaan om ons babas te gaan haal. Hulle was nog nie aangetrek nie, maar het hy solank ons eersgeborene vir my gegee om te kyk of sy sal drink. Sy het seker so 10 sekondes rondgesoek en toe die tietie gevat! In tussen het ‘n verpleegster ingekom om die ander enetjie te weeg en aan te trek en toe sy klaar was, het sy die oudste by my geneem om te weeg en aan te trek en kon ek die jongste probeer voed. Sy het sommer dadelik die tietie gevat en begin suig! Ek was so bly en dankbaar dat dit so maklik was, want destyds met die laaitie het ek baie gesukkel.

Nadat altwee geweeg en aangetrek was, het ons hulle na my kamer geneem waar hulle die nag saam met my op ‘n enkelbed moes slaap! Gelukkig was die een bed teen die muur, anders sou ek die hele nag nie ‘n oog toegemaak het nie. Nie dat ek juis geslaap het nie, wou net die hele tyd vir hulle kyk!

In tussen moes ons ‘n naam kry vir ons eerste dogtertjie en het ons besluit om net die name wat ons sou gebruik vir ‘n seuntjie, na die vroulike te verander en het ouboet haar noemnaam voorgestel.

Ons eerste dogtertjie het 2.41 kg geweeg by geboorte en is 45 cm lank. Haar apgar tellings was 8/10 en 9/10. Sy het donkerbruin hare en krom pinkies nes my pa, ek en ouboet. En haar regteroortjie het ‘n effense kepie aan die bokant. Sy lyk redelik baie na haar ouboet en het die kleinste ou mondjie.

Ons tweede dogtertjie het 2.53 kg geweeg by geboorte en is 50 cm lank. Haar apgar tellings was 9/10 en 10/10. Sy het rooi/blonde hare en ook krom pinkies nes my pa, ek en ouboet. En die suster het opgemerk sy lyk nes die pa! Sy lyk baie na my man se broer se seuntjie (en sy 3 maande oue sussie het by geboorte net soos hy gelyk). Haar velletjie is ook donkerder as haar sussie s’n.

En dis die verhaal van ons tweeling se geboorte, mamma se twee prinsessies!

Published in: on Augustus 25, 2011 at 2:31 nm  Comments (8)  

Leanie

Ek wou myself al skop oor ek gesê het ek sal die lappop maak nadat ek gesê het ek neem nie enige verdere bestellings nie, veral toe dit lyk of die tweeling hier gaan wees voor sy klaar is, maar nou is sy darem uiteindelik klaar.

Ek is jammer vir almal wat ek weggewys het en veral vir Rachelle vir wie ek gesê het ek een sal maak, maar nou nie meer gaan nie, maar dit is ongelukkig een van daardie dinge. Ek het ‘n hele mandjie vol uitgesnyde poppe en klere waarby ek graag wou uitkom en het ook gedink om vir my dogtertjie een te maak, maar dit sal moet wag tot daar weer eendag voor tyd is.

Published in: on Augustus 4, 2011 at 6:08 nm  Lewer Kommentaar  

Mamma se bruinoogseunskind was sowaar al 10 jaar oud!

My bruinoogseunskind was sowaar die 17de Julie al 10 jaar oud. Dit bly maar erg hoe vinnig die tyd vlieg. Ons het die 23ste partytjie gehou en het ek besluit dit was die laaste een, hy het nog elke jaar van sy 1ste verjaardag af een gehad en van volgende jaar af is dit die twins se beurt!

Hy het toe ‘n baie mooi rapport huistoe gebring en ek is baie trots op hom dat hy so goed doen. Hy wil nou net weet waar is my rapporte, maar gelukkig is dit ver weg in ‘n boks iewers…

Published in: on Augustus 2, 2011 at 9:54 nm  Comments (2)  
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 26 other followers