September 28, 2007
September 25, 2007
Is jy kwaad?
Kyk, as jy my nou die dag regtig kwaad wil hê, dan moet jy vir my vra of ek kwaad is. Hoekom weet nugter alleen, maar almal wat my regtig ken sal dit beaam. Kan onthou toe ek nog in die laerskool was, seker so st. 2 of so, hoe kwaad ek vir my niggies was oor hulle kort-kort vir my gevra het of ek kwaad is. En dit omdat ek nie baie praat nie.
Nou ja wel, daarvoor kan ook ‘n rede wees. My laaitie is ‘n regte klein babbelbekkie. En dis okay, behalwe in die oggend, want ek is nie ‘n oggendmens nie! Het myself al ‘n paar keer gevang dat ek hom vra om net ‘n bietjie stil te bly. Nou ja, hy het ‘n selfbeeld wat ek nooit gehad het nie (maar dit is ‘n ander storie wat aansluit by verwerping wat nou die dag op Steve se blog bietjie aangeroer was), en hy sal so 5 sekondes stil wees dan trek hy weer los. Ek het nie ‘n selfbeeld nie en selfvertroue is iets wat aan my onbekend is – maar ek werk hard daaraan soos julle kan sien (my kuberpersoonlikheid het baie meer persoonlikheid as ek!). So as iemand my een of twee keer sou gevra het om stil te bly – ek het geluister!
Met ander woorde, ek is stil. En as jy my nog stiller wil hê dan moet jy my nou vra hoekom is ek so stil – slaat net daar toe soos ‘n mossel!
En dit lei my toe om te begin dink die man wat dit met my sal uithou, moet nog gebore word. En soos jul seker al weet, ek is desperately lonely, maar banger vir seerkry! Het so twee weke terug weer geregistreer op Flirt SMS. Was al verbasend baie wat belangstel, maar nou is ek nog vol fiemies ook! Begin toe met die een ou chat – of dan nou “flirt”! Vrydagaand SMS hy toe mos en vra hoekom is ek so stil…!!!!!
Maar ek besluit om dit te ignoreer en gaan klim liewer in die bed en slaap. Sien Saterdagoggend hy het dit ‘n halfuur weer gevra…
En bietjie later wil hy weet of ek lekker geslaap het. En hoekom is ek so stil. En “Is jy kwaad?”
So, toe byt hierdie vuurspuwende draak sy kop af! (Later, toe ek op die almanak kyk, besef ek dis eintlik PMS…)
Ek het hom dus ‘n “piece of my mind” gegee: “Weet nie hoekom kla mans altyd oor vrouens wat te veel praat nie, want as hul een ontdek wat stil is, moet sy mos kwaad wees. Ek praat net nie baie nie.”
Sy antwoord? “Hi, hoekom antwoord jy nie my sms nie? Laat weet my wat gaan aan?”
Nou my f@k kan die man dan nie lees nie?
En eintlik gaan dit heeltemal oor iets anders. Duh! Ek is al so bang vir seerkry en het ‘n hoë muur om my gebou waaroor niemand mag kom nie. As jy dit dus waag, moet jy weet – dis oorlog!
My laaitie se skoolfoto’s
Soos ek julle Vrydag vertel het, het ek my laaitie se skoolfoto’s gekry. Ek is beïndruk met die kleuterskool waar hy hierdie jaar is, hul probeer hard!
Is net vreeslik dat hy al volgende jaar skool toe gaan. En dat dit dieselfde outjie is wat nooit wou slaap toe hy ‘n baba was nie. En dat hy liewer vir my is nadat ek met hom baklei het nie. En dat hy so gou uitgevind het sy ma is die tandemuis nie, terwyl hy nog net twee tande gewissel het. En dat hy altyd sy laaste lekkertjie met my sal deel. En hoe graag hy my wil help as hy weet ek voel nie lekker nie. En so kan ek aangaan tot vervelens toe! Al wat ek weet, is dat hy die greatste laaitie is waarvoor enige ma kan vra!
September 21, 2007
Oor siek kinders, enkelma’s en skoolvakansies…
My laaitie is siek, darem vandag skool toe, want dis in anyway net ‘n uur en ‘n half – juffrou sal dit seker darem oorleef! Maar die 3 dae wat hy nie by die skool was nie, was hy saam met my by die kantoor (want die baas is nie hier nie!). Daar is mense wat sê ek is ‘n goeie ma, maar o weë, ek kan doen met nog geduld – baie geduld!
Gelukkig bly hy in die vakansie by my ma – weet nie wat ek sonder haar en my pa sou gedoen het nie. En dan raak ek so opstandig dat sy pa nie in hom belangstel nie, maar miskien ontmoet ek ‘n wonderlike man en dan hoef hy nie te kompeteer met ‘n pa nie.
Ek het vandag sy skoolfoto’s gekry en dit is so mooi! En sy verslag – kan nie glo wat hulle al in die kleuterskool leer nie.
Is amper langnaweek…
