Xanika se Blog

Oktober 29, 2007

Alle mans is nie dieselfde nie

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 11:54 vm

Of is hulle? En okey, voor julle my met klippe gooi – ek weet (of moet ek sê ek glo en hoop?) almal is nie dieselfde nie. My probleem is net dat ek nog nie een ontmoet het wat anders is nie!

Die Paul ou verstaan moeilik nee. Het ook seker geleer as ‘n vrou sê nee bedoel sy eintlik ja, jy moet net lank genoeg aanhou en genoeg beloftes maak en en en?

Hy was weer Saterdag hier. Net om vir my die R50.00 te bring wat hy my nog skuld. Het hom Vrydagaand gesê hy gaan sy tyd en geld mors, ek het nie tyd vir kuier nie. Maar nee, hy wil net my geld vir my bring. Ontmoet hom toe by ‘n winkel in die dorp, soek hom nie by my huis nie en wil nie hê my laaitie moet hom weer sien nie. Sal hy vra of ons nie kan gaan uiteet nie. Nee ons kan nie gaan uiteet nie, ek het eers 24:30 in die bed gekom, ek is moeg en my kop is seer. Nou kan ons dan nie gaan koffie drink nie. Net tien minute.

Nee. Hoe moeilik is dit nou om dit te verstaan. Nee, ek wil nie saam met jou gaan koffie drink nie. Ek wil nie nog tien minute van my tyd op jou mors nie. Want ek het klaar besluit ek stel nie belang nie. Ek voel nie aangetrokke tot jou nie. Daar is nie ‘n spark nie!

Gee my toe ‘n bos pienk rose en ‘n pak Ferrero Rocher sjokolade en my R50.00. En ons staan daar in die straat en gesels. Hoe meer ek sê dit gaan nie werk nie, hoe meer wil hy weet wat moet hy nog doen. Wat moet hy nog verander. Wat as hy sy besigheid hierheen skuif. Ek was egter nie lus om daar in die straat te staan en die man te probeer oortuig dat ek oortuig is dat dit nie sal werk nie en dat hy kan doen net wat hy wil en verander net wat hy wil en trek net waarheen hy wil, dit is verby.

So toe sê ek jammer hy het sy tyd gemors. O nee, dit was nie tyd mors nie. Nou kon hy my weer sien en ‘n ruk by hom hê. En wil ek nie maar die aand saam met hom gaan na een of ander afskeidsfunksie nie. Watter deel van nee verstaan hy nie!

Toe wens ek hom sterkte toe vir sy toekoms, draai om en loop oor die straat. In die eerste die beste besigheid waar ek ‘n vriendin het. Sy is in die wolke, het die mooiste pienk rose gekry en sjokolade waaroor sy mal is. En na ek teenoor haar afgegaan het oor mans ( in die algemeen – so jammer vir al die oulike ordentlike ouens iewers daar buite wat nee verstaan! ) het ek in my kar geklim en huis toe gery.

En verder afgegaan…

Oktober 26, 2007

Ape met aaptasse

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 8:03 vm

Was toe mos Maandagaand by my eerste oueraand. En nee, dit was nie naastenby wat ek verwag het nie. Het gedink dit gaan daaroor om oor ons kinders te praat. Maar dit gaan toe oor hoe om jou kind bogemiddeld te laat presteer. Heel goed gevoel toe ek daar uitstap, klink darem nie of ek heeltemal van die bus afgeval het nie. Woensdagaand hou hulle egter ‘n werkswinkel vir die ouers wat wil seker maak hul doen meer as die gemiddelde ouer.Het niks om te verloor nie – kostes is klaar gedek – so ek bespreek toe vir my ook ‘n plekkie. Is nou alles goed en wel, maar eintlik is dit die ideaal dat mamma en pappa daar moet wees. Hallo, ek is mamma en pappa! Nee, jy doen wel alles, maar pappa sal jy nooit wees nie.Dankie. Is nou nie eintlik asof ek dit nie geweet het nie en ook nie eintlik wat ek bedoel het nie. Maar dit daar gelaat. Hulle help ook enkelouers, maar jy moet bereid wees om hard te werk. Gmpfh.Wat dink hulle doen ek die hele dag – verf my toonnaels verskillende kleure?In any case. Ek was toe by die werkswinkel. Asseblief mevrou, moet nou nie hartseer wees nie ons wil nou nie die kos uit julle monde uit vat nie…Want dis eintlik al wat hulle wil hê. Jou geld. Al beteken dit dan ook drie groot vooruitgedateerde tjeks. Of jou kredietkaart se budget deur die dak. So as iemand dalk R5,000.00 het wat rondlê – ek weet van ‘n plek waar ek dit kan gebruik…Help natuurlik baie as jy skuldig voel. En te veel geld het. En daarvoor kry jy ‘n hele krat vol allerhande gadgets om jou kind eendag as begaafde te kan laat kwalifiseer. Maar dis nou ook natuurlik sonder enige waarborge…En die ideaal is dat jy met jou pasgeborene begin – jy kan dit met jou pasgeborene doen sodat hy nie eendag net gemiddeld sal wees nie. Nou wat as hy in any case bedoel is om begaafd te wees (of dalk om nie te wees nie?!) – hoe weet jy jy mors nie jou geld nie?Want ja, dit is ‘n tien jaar plan wat jou kind bo die gemiddeldes gaan laat uitstaan. Of gaan hy?Of is ek te sinies? Of te arm? OF te veel oortuig dat my kind in elk geval bogemiddeld is?Ek sal dus aanhou om self my laaitie by die huis te help met lees en skryf en tel en syfers en vorms en kleure en memoriseer en legkaarte en en en. Want sy ouma is van mening dat dit maar okey sal wees as hy eendag net in staat is om strate te vee. My kind net goed genoeg om strate te vee? Ek dink nie so nie.Jammer mevrou, ons kan nie ‘n evaluasie doen sonder om die hele kaboedel aan jou af te smeer nie, want daar is nie ‘n manier dat hy die evaluasie sal deurkom nie. En ons loop ‘n pad met jou.Of is hulle bang my laaitie doen goed met hul evaluasie en dan lyk hulle soos die ape met hul aaptas en al?

Oktober 22, 2007

As

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 8:37 vm

Vanaand is my eerste oueraand. En die eerste wat ek gedoen het toe ek die briefie kry, was om my eks te bel. Maar darem om te hoor of hy daar kan wees, want daar is ‘n plek vir Mamma en Pappa om te antwoord. Maar toe wonder ek weer wat het dan verkeerd geloop, want nou kom ons so goed oor die weg.En toe onthou ek. EN toe wonder ek wat op aarde het my besiel om in die eerste plek met hom te trou. Want aan die begin het ek dan nie eens van hom gehou nie. En dis saggies gestel. Ek kon die ou nie verdra nie. Maar ek gaan toe een aand saam met hom na ‘n sokkie toe en ontdek hy is darem nie te onaardig nie. En mens kan mos leer om vir iemand lief te wees.Of kan mens. Dit help natuurlik glad nie as dit net van een kant af kom nie. En dalk is dit ook nou my probleem met die Paul ou. Hy wil dit glad nie aanvaar dat ek niks meer met hom te doen wil hê nie en dring daarop aan dat ek met hom moet vriende wees. Want dis te gou om vir mekaar lief te wees. En dit is nou waar my probleem inkom.

willem-en-ina-troufoto.jpg Of jy hou van iemand of jy hou nie van hom nie. Daar moet net daardie “iets” wees wat jou na hom aantrek. En dit is nie daar nie. En voor ek weer vyf jaar mors soos met Gert wat dit ook nie wou aanvaar dat ek nie oor hom voel soos wat hy oor my voel nie, stop ek dit liewer na twee weke en een dag as om so aan te karring en te weet ek gaan nie verander oor hoe ek voel nie. En hy is nog oorgewig ook. En hy is nie baie lief vir skeer nie. En as dit my nou al pla, hoe gaan dit wees oor 32 jaar – want dit is waar my ouers nou sit.

Dit is dan ook die rede hoekom ek my eks gelos het die oomblik toe dit nie vir my lyk of dinge gaan regkom na twee jaar van getroud wees nie.   anel-troufoto.jpg Ek wou nie my kind sien ly soos wat ek moes ly nie. Ek het meer as een keer op baie dae gewens my ouers wil net skei dat dinge kan beter gaan. En vandag deel hul nie eens meer ‘n bed nie. Soos my laaitie opgemerk het – “hulle is kamermaats”. Maar ek is bevrees selfs kamermaats deel meer as hulle. En my ma se antwoord is dat hul te gou getrou het. En ek stem saam. Sy het in November sy ad in die Opsitkers gesien en April die volgende jaar is hulle getroud. En die Januarie die volgende jaar is ek gebore. Ek en my eks was ‘n jaar getroud voor ons besluit het om met ‘n gesin te begin. Oor so baie van sy vriende wat al lank getroud was so gesukkel het om kinders te kry. Maar ons het nie gesukkel nie, nege maande later is ons bruinoog kind gebore.  baba.jpg En haai nooit maar dit het toe niks beter gegaan nie.Ek het self vir elke liewe doktersondersoek betaal en is maar Provinsiaal toe vir die kraam. Gelukkig laat weet hul toe nie die dokter nie, so toe vang die vroedvrou hom sommer. En dankie tog niks het verkeerd gegaan nie, want toe het ek geen rekening om te betaal vir die kraam nie.En in die amper vier maande wat my eks en sy laaitie in dieselfde huis gebly het, het hy een keer gehelp om sy vessie uit te trek dat hy kan bad, hy het een keer vir hom sy bottel in sy stootwaentjie gegee en hy het hom twee keer vasgehou sodat ek kon foto’s neem.   chris-en-aj.jpgchris-en-aj-2.jpg Uit sy eie het hy nooit hom opgetel nie. So toe vat ek hom – skaars ‘n week nadat hy gedoop is!   aj-doop.jpg – en ek loop.Hoe anders kon my lewe nie gewees het nie. As ek nie getroud het nie. As ons nie ‘n kind gehad het nie. As ek nie geloop het nie. As as as. As is verbrande hout…En as hy dalk vir my baklei het en nie gedreig het om my kind, my alles, van my weg te vat nie.Maar nou is dit te laat. Want in tussen het daar ‘n ander vrou by hom ingetrek en hulle het nou al twee kinders.   aj-en-louise-as-baba.jpg chris.jpg En sy het maar st. 7. En sy het nie ‘n werk nie.En hy het my hond bokant sy kop getel en op die grond neergegooi.So kan ek vir lank aangaan. Maar ek weet hoekom ek hom gelos het en hoekom ek nie teruggegaan het nie. Nie sal teruggaan nie. En hoekom ek nie belangstel in Paul nie. Ek het nog nie eens sy ouers ontmoet nie. Nie dat dit veel sê nie, want Gert se ouers is die wonderlikste mense en hy…Die bokke het toe gelukkig Saterdag gewen. Selfs ek en my laaitie het rugbytruie aangehad. Syne te groot en myne te klein.  aj-rugby.jpg Hy wou so graag Saterdagaand die rugby kyk. Ons het egter eers Jumanji klaargekyk en toe Percy so byna byna baie lelik seer kon gekry het, het hy besluit om liewer te gaan slaap.Go bokke!

Oktober 17, 2007

Nou loop ek maar die paadjie – alleen leen leen

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 8:33 vm

Ek is al so moeg vir seerkry dat, elke keer wanneer ‘n verhouding of ‘n vriendskap met ‘n man nie werk nie, ek my voorneem dat ek heeltemal klaar is met mans. Maar ek is nie gemaak om alleen te wees nie. Na die ondervinding – of is dit nagmerrie! – met Paul het ek egter besluit dis nou klaar. Al hoe ek weer vir ‘n man sal val is as hy actually op ‘n goue skinkbord uit die hemel laat sak word…

Hy was toe nie wat hy voorgegee het om te wees nie. En dit het presies twee weke en een dag gevat om dit uit te vind. Twee weke en een dag te veel. Die eerste naweek dat hy hier was, braai ons en my pa vra of hy nie vir hulle ‘n bottel sal kry nie. Nee oom, sê hy, maar hy drink nie. Gister beleef hy toe ‘n afdag en waar bevind hy homself toe gisteraand – in die kroeg!

Nou kyk, dit was een van die redes wat veroorsaak het dat my eerste huwelik in die egskeidingshof geëindig het en as ek nie 120% seker is van sukses nie sal ek nie weer trou nie. Die ander ding was natuurlik dat ek vir hom jammer gevoel het. En al wat ek vandag voel vir die arme ou is jammerte. Dus is ek nou weer alleen. Gelukkig en alleen, want ek het nie ‘n man nodig om my gelukkig te maak nie.

En as die alleen te erg word, het ek al my wonderlike kubermaaikies!

En my pragtige seunskind wie se belange vir eers eerste kom. Want trou ek met die ou, moet hy koshuis toe gaan en as ek dit nie eens kon regkry om hom by die dagmoeder af te laai sonder om te huil nie, hoe sal ek dit regkry om hom ‘n week op ‘n slag te laat gaan. Al maak hy my soms so kwaad dat ek hom wil wurg…

Vandag is ‘n heerlike sonskyndag hier op die platteland, eerste oggend in ‘n lang tyd dat ek in sonlig werk toe kon ry en nie in mis of reën nie. Maar die grond is alweer droog en kla oor die reën sal ek ook nie. Maar vandag geniet ek die sonskyn, net wat ek nodig het!

Oktober 15, 2007

Totally confused…???!!!

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 9:30 vm

‘n Hele naweek vol rugby. Het die hele wedstryd tussen Suid-Afrika en Argentinië geslaap… in Paul se arms… Maar vandag is dit Maandag en ek is terug in die “real world”! So bly die Cheetahs het die Blou Bulle gewen – al weet ek dit ook net na aanleiding van die sportnuus. Ek weet nie juis veel van rugby nie, maar die wedstryd tussen Suid-Afrika en Fiji het selfs vir my ontsenu.

So ja Paul was hier – weer! Maar klaarblyklik het ek een maal te veel seergekry, want ek is so bang dat ek lus is om weg te hardloop. En hy sê hy is mal oor my. Dit nou ten spyte van die feit dat ek gister stilstuipe gehad het en byna nie ‘n woord met hom gepraat het nie. Ag ek haat myself as ek so is, maar voel hulpeloos en ongemotifeerd om enigiets daaraan te verander!

Paul bly egter daarby staan dat hy dink ek is wonderlik (wat is wonderlik aan iemand wat niks van haarself dink nie!). Maar dalk, as ek heeltemal eerlik moet wees, hou ek baie van myself en is daar niks wat ek wil verander nie…

En vandag is Maandag…………………………

Volgende Blad »

Aangedryf deur WordPress.com