Synde dat sommige nie die onderwerp oor skei en goed wil los nie, sal ek nou maar ook weer iets sê. Of dan nou vra. Wat staan jou te doen as jy vriende raak met ‘n man en op hom staan en verlief raak. Hy werk vir sy ouers en die besigheid kom voor as baie suksesvol. Julle kom goed oor die weg en trou so 3 jaar later. Nou kom jy agter hy glo nie heeltemal wat jy glo nie. Gaan nie gereeld kerk toe nie. Verdien nie regtig ‘n salaris nie. Kan nie nee sê vir ‘n drankie nie. Dra nie by tot die huishouding nie. Daar was ooreengekom dat die man vir die huis sal sorg – dat die water en ligte betaal word, dat kruideniersware gekoop word en vir sy eie selfoon; die vrou sal sorg dat die huis skoon is, dat daar klere is om aan te trek, sy sal kos kook, die klererekening betaal, die apteekrekening betaal en haar selfoon betaal. In tussen sorg die vrou maar dat die huis skoon is, dat hy klere het om aan te trek (toe hulle saam in die huis intrek, het hy net die klere aan sy lyf, ‘n motor, twee hangkaste, ‘n selfoon en ‘n kombuis tafel) en dat daar kos is om te eet. Maar aand na aand kom hy by die huis en wil nie eet nie, want hy het sommer by sy ouers geëet. Wanneer die vrou probeer om met die man te praat, sê hy net los dit, klim in sy kar en gaan na sy ma-hulle toe. Op ‘n stadium word daar gepraat oor ‘n kind en dat dit hom dalk sal help om meer huislik te word en nie heeldag by sy ma sal wil wees nie.
Ag maar ek was lekker dom. Val sommer dadelik daarvoor, want my lewe lank droom ek al oor my eie kind.
Die gevolge was nie soos beplan nie. In die 24 maande wat ons saam gebly het na die troue, het hy 2 x R600.00 en 2 x R1,000.00 bygedra vir kruideniersware. Met die gevolg dat ek nie meer vir die huis kos gemaak het nie. Want daar was in elk geval nie. Ek het gesorg dat ek eet, want hy eet mos by sy ouers. En die dag dat hy toe besluit om by die huis te kom eet, is daar niks. So toe gee ons ‘n gratis vuurwerkvertoning…
Het begin vermoed hy het ‘n verhouding. Want ek was nie meer goed genoeg nie. Hy was die een met die hoofpyn… Na ons uit mekaar is, het ek gehoor daar was wel iemand anders. En nie net een nie!
Hy het nie in ons laaitie belanggestel nie. Was amper nie eens by toe hy gebore is nie, want ek was in die provinsiale hospitaal vir die kraam en sy ma in ‘n privaat kliniek oor haar heup uitgegly het en hy was vreeslik bekommerd oor haar (dit ten spyte van die feit dat dit nie die eerste keer was dat dit met haar gebeur het nie en lank nie die laaste nie!).
Een dag moes ons stad toe gaan en toe ek die kleintjie se karstoeltjie wil vasgordel, is die veiligheidsgordel te kort. Ek maak toe die feit om te sê dis snaaks, ek kan hom dan in my ma se kar vasgordel. Word sommer nou yskoud net om daaraan te dink. Ek het al gesien hoe klap hy my net daar. Hy sê toe “Lief, stop jou kak”. Al die bloed het uit my liggaam gevloei. Vir sommiges is dit dalk nie snaaks nie, maar ekself vloek nie as ‘n reël nie en ek het nooit gehoor dat my pa my ma vloek nie.
Dalk het ek te beskermd groot geword, maar ek het net nie kans gesien om so te leef nie. Ek het my kind gevat, een week voor hy vier maande oud geword het, en ons het by my ouers ingetrek.
Toe baklei hy vir die kind. Arme aap. Ek werk by ‘n prokureur en weet dat ek ‘n goeie ma is en hy is goed versorg wanneer ek werk. Nie eens ‘n prostituut sal sommer haar kind verloor as sy ‘n goeie ma is nie.
Sestien maande later was die egskeiding nog nie afgehandel nie en moes ons die Gesinsadvokaat gaan sien oor hy beweer ek laat die kind die hele dag op die vloer lê, gee nie vir hom kos nie en daar is fout met hom. Daar wil hulle weet of ek al weer betrokke is in ‘n verhouding waarop ek eerlik nee kon antwoord, want ek het nog nie weer na enige man gekyk nie.
Weet nie hoekom hulle hom nie gevra het nie, want een maand later vind ek uit hy bly al vier maande saam met ‘n ander vrou. En almal sê dis net om my jaloers te maak.
Daar het ek egter finaal besluit ek sal hom nooit terugvat nie. Wel eintlik het ek dit al besluit die dag toe ek my goed gevat en geloop het, want hy het al sy kanse klaar gebruik.
In tussen het hulle toe ‘n dogtertjie en ‘n seuntjie en sy vra my om haar te help om onderhoud by haar eks te kry vir hulle dogter. Maar andersins wil ons mekaar se oë uitkrap, want sy dink hy wil my terughê. Moes haar seker gesê het ek sal hom nie vat nie.
Want hy het haar so twee weke terug by haar tannie gaan aflaai. Sy het haar kinders by hom gelos – haar dogter uit ‘n vorige huwelik sowel as hulle dogtertjie en seuntjie. Hoe kan ‘n ma so iets doen?!
Maar ek het ‘n fout gemaak, het getrou met ‘n man van wie almal vandag vertel hulle het geweet dit sal nie werk nie. Wonder net hoekom het hulle nie in die kerk opgestaan nie…