Uiteindelik kan ek weer blog! My seuntjie begin vandag met skool. Het ‘n week terug al dat hy sy klere aanpas en het foto’s geneem, maar ek wil dit net nie aanvaar dat hy al so groot is nie… ![]()
En gister het ek weer begin werk. Die ander tikster wat saam met my werk, het my deur die vakansie gesms en meegedeel die baas sê sy moet ander werk soek. Hoop nie hy dink ek gaan alles alleen doen nie.
Die vakansie was lekker. Het net nie by die helfte uitgekom van wat ek alles beplan het nie, maar ek kon darem die pop klaar maak wat my laaitie vir sy sussie wou gee vir Kersfees.
Ek en hy het ‘n week in Johannesburg gekuier, oor Kersfees
het my boetie-hulle vir ons kom kuier
(nie dat ek veel daarvan kan onthou nie, was drie dae in die bed met piep of iets…) en daarna het Renchia-hulle by ons kom kuier.
Ons het gaan visvang – die laaitie het sy vierde vis gevang
en is nie bietjie trots op homself nie en sy nuwe maatjie sy eerste twee
en ons was plaas toe waar hy weer die skape kon aanjaag met sy maatjie se hulp.
![]()
In die tussentyd het die laaitie begin om sy nuwe fiets sonder kantwiele te ry
en ek moes hom leer touspring, want hy moet kan touspring voor hy skool toe gaan – “juffrou het so gesê”!
Gister moes hy maar saam met my kantoor toe kom, want my ma het in die tussentyd begin werk vir ‘n baas – vir die eerste keer in seker 20 jaar nadat sy tuisteskepper en naaldwerkster was. En toe bring hy vir hom ‘n klomp paddavissies huis toe, want die baas het gesê hy kan soveel vat as wat hy wil hê, daar is baie. ![]()
En daar was die onderonsie met die spinnekop – weet nie hoekom sy nou juis moes nes maak onder ‘n stoel op ons stoep nie.
O ja en ek en my laaitie was een dag saam met sy ander ouma en sy halfsussie en –boetie en my eks se sussie na sy tannie toe. Hy het dit baie geniet en hy en sy halfsussie het so lekker gespeel. Maar haar ma wil nie hê dat sy by hom moet kom speel nie. ![]()
Sondag het ons my eks in Spar raakgeloop en toe sê hy hy is oppad om die vrou by haar tannie te gaan aflaai. En toe ons Maandag by sy huis was om water te gaan haal (‘n deel van die dorp was sonder water en hulle het ‘n boorgat) is die vrou weg, maar haar dogter uit ‘n vorige huwelik en my laaitie se halfsussie en –boetie het agtergebly. Hoe los mens sommer net jou kinders? Ek sal moor voor ek my kind laat gaan.Of het hy haar gedreig soos vir my en sy is te dom om te baklei. Of te bang. Of dalk is sy bly… Want ek het al gevoel ek kan haar wurg as ek sien hoe lelik sy met die kinders is. Vermoed dis hoekom die laaitie nooit vra om na sy pa toe te gaan nie, want hy sien nie kans vir die vrou nie.Blykbaar was sy ook nog bang hy los haar en vat my terug. Moet iets makeer om dit te doen. Hoop net nie hy dink ek gaan hom terugvat en al sy kindertjies onder een dak groot maak nie. Want dan maak hy ‘n reuse fout.
My pa is van mening dat dit vir my kind goed sal wees. Maar ek wil nooit weer in vrees leef nie. Of wonder waar ek kos vir my kind gaan kry nie. Of hoor by watter vrou het hy nou al weer geslaap nie.Want ‘n jakkals verander van hare, maar nie van streke nie.
En as ons bekend was, was hy op die voorblad van die Huisgenoot…
Xanika, wat ‘n mooi naam.
Sterkte vir 2008, mag dit ‘n onvergeetlike wonderlike jaar vir jou en jou seun wees.
Jy is ‘n sterk voorwaar ‘n baie sterk vrou! Jou seun moet baie trots wees op sy Mamma.
Hey Xanika
Lekker om jou weer terug te he. Ook bly om te sien jul’t darem die breukie kon geniet ongeag wat.
Geluk met jou seun se 1ste skooldaggie {ja nee jong, is maar moeilik om te aanvaar hul word so gou groot}. Xanika, DOEN net wat jy doen {IS daar vir jou kind, Het en Gee baie liefde vir hom}. Mens kan sommer sien hy’s “omring” met liefde & omgee. GENIET die knapie en alle voorspoed met sy skoolgaan. Jammer dat die Ma van sy halfsussie so optree, {hoop dit verander in die toekoms}, maar ek’s seker jou seun & sy halfsussie se liefde vir mekaar bind hulle. Hul’s pragtig, hoor.
Sterkte met die dinge by die werk en jou seun. Diep in jou hart sal jy wel weet – Waarheen? Wat? Hoe? Wie? ens., want jy’s n Ma & die Liewe Heer het altyd n antwoord, ongeag die goed / sleg van n situasie.
Pas julle NET mooi op
Mooi bly
Louise
XXxx…
Ai, hoe onthou en nou nie die 1ste skooldag 18 jaar terug nie, seun het soos ‘n neut aan my geklou. Dis so mooi om te sien dat jy baie lief is vir hom en hoe jy al die buitelewe dinge saam hom doen.
‘n Baie Geseende 2008 vir jou en jou seuntjie en familie!
Welkom terug hoop jy het darm bietjie rus deur die dol, te min dae vir alles gekry maar ek glo julle het dit baie geniet.
Ja en so begin n nuwe fase in jou en jou laaitjie se lewe skool-nou weet mens hulle word groot
Welkom terug, mag 2008 vir jou net mooi dinge inhou. Dit lyk of jy jou ruskansie darem geniet het.
Seuntjie lyk te wintie in sy skoolklere! Hulle word so vinnig groot…
Ag, jou seuntjie lyk so oulik. Baie geluk. Myne begin komende Woensdag. Die knop sit al in my keel…
Ons kan nie die kinders se pa’s dwing om deel te wees van hulle kinders se lewe nie, my eks stel net mooi niks belang in sy kinders se lewe nie. Ek vra hom niks en hy vra my niks nie!! Onthou een ding: DIE WIEL DRAAI SY DAG SAL HY KRY.
Sterkte vir jou. Jou seuntjie lyk alte ougat in sy skoolklere.
Mag 2008 ‘n wonderlike jaar vir jou ook wees.