Jy moet ‘n hart van klip hê om te kan boer. Jy moet nie ‘n lafaard wees nie. Jy moet nie ‘n sensitiewe maag hê nie. En jy moet beslis nie ‘n sagte hartjie hê as dit kom by diere nie.
Ons het die naweek weer by my oom op die plaas gekuier. Vrydagmiddag was ons saam met hom Vereeniging toe, hy is siek en die plaaslike dokters kan nie vasstel wat fout is nie.
Volgens die speliasis is dit ‘n virus wat homself maar moet uitwoed, geen medikasie kan hom help nie.

Ons het Vrydagaand laat eers by die huis gekom en het my oom toe by ons oorgeslaap. Saterdag is ons toe saam met hom plaas toe, want dit was sy verjaardag.
Dit het egter tot gevolg gehad dat die plaaswerkers Vrydagmiddag die skape huis toe moes neem en weer Saterdagoggend veld toe moes vat en hulle gee vir ‘n mense se goed net mooi niks om nie.
Saterdagmiddag het ons saam met my oom gegaan toe hy gaan kyk het hoe gaan dit met die skape en beeste. Dis nou na die een plaaswerker die bakkie teruggebring het waarmee hy dorp toe was, maar net veronderstel is om op die plaas te gebruik om na die vee te kyk wanneer my oom nie daar is nie.
Ons merk toe op dat daar ‘n ooi is wat lê en my oom sê toe daar is fout, sy sukkel om te lam.
Na ons gesien het dat alles reg is by die beeste, het ons al die skape bymekaar gekry en huis toe gejaag.
Die arme ooi het al sukkelende ook by die huis aangekom en het my oom ou Josef laat kom om te kom help.
Na ‘n lang gesukkel in die koue – ons het so gehoop teen die tyd reën dit, maar dit voel alweer soos winter – kon Josef nie die lammetjie uitkry nie.
My pa sê dis oor die lammetjie al ‘n ruk dood is en styf geword het, daarm dat Josef die lam nie gedraai kon kry om dit uit te kry nie.
Ek moet darem sê dat Josef baie mooi met die ooi gewerk het, ek het glad maagpyn gekry uit pure simpatie met die ooi, want sy moes darem bitterlik seer gehad het terwyl hy haar probeer help het.
Maar op die ou end kon sy nie gehelp word nie.
Die natuur is vir my so pragtig en wonderlik en laat my so baie keer sonder woorde om dit te kan beskryf, maar dit kan net so koud, ongenaakbaar en harteloos wees.
Mens voel of jy kan uitroep hoekom. Of jy sommer net jou geloof en alles wat vir jou kosbaar is, weg kan gooi.
En dit oor ‘n skaap. ‘n Arme onnosele skaap. Ek hoor daar word gesê skape vlug nie voor ‘n veldbrand nie. En tog het dit gevoel of my hele lewe ineenstort. Oor een skaap.
Dalk was dit net alles wat op daardie stadium net te veel geword het. Die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het!
Ek sal nie een week hou op ‘n plaas nie. Om naweke daar te kuier wanneer alles vlot verloop, is heerlik, maar wanneer sulke dinge gebeur, weet ek nie of ek weer wil gaan nie.
Want na ‘n ervaring soos hierdie, is ek bly as ek kan huis toe gaan, terug na my eentonige bestaan van jaag tussen punt A en B!
En soms is dit so ‘n gebeurtenis wat nodig is om jou weer op die plek te kry waar jy moet wees. Om net weer te besef hoe nietig jy is en om te alle tye te moet leef asof dit jou laaste kans is en seker te wees dat jou saak met jou Skepper reg is.
Gistermiddag voor ons teruggekom het huis toe, het ons eers weer gehelp om die skape by die huis te kry. En wat ons toe ontdek het, het opgemaak vir Saterdag se aakligheid:



Eers het ons hierdie ooi met ‘n nuwe lammetjie gekry en terwyl ek gesukkel het om my oom in die hande te kry, het sy solank saam met die ander skape begin huis toe loop. Net om elke paar tree te gaan staan, die lammetjie te roep en te wag tot die ou kleintjie by haar kom voor sy weer ‘n paar tree loop en die hele storie herhaal.
En nie ver van hierdie mamma en haar nuwe baba af nie, het ons nog ‘n ooi gekry met ‘n nuwe baba wat nog bietjie meer onlangs as hierdie outjie aangekom het: 

Ons het hulle twee op die bakkie gelaai, want hierdie outjie kon nog nie eens behoorlik op sy beentjies staan nie. In tussen het die ander nuwe mamma tot by die huis geloop en was die arme ou kleintjie seker so moeg! 