Argiewe

All posts for the month September, 2008

Dink nie daar is meer hoop vir my nie…

Published September 30, 2008 by Xanika

Ek kan  maar net vir myself lag! Vandag het ek nou wel die memory stick saamgebring kantoor toe, maar die foto’s is nog nie eens daarop gelaai nie…

Lyk nie of verlede week se twee af dae my enigsins goed gedoen het nie. En die baas het in daardie twee dae gedikteer asof hy drie tiksters het.

Gister het ek darem uiteindelik my nuwe selfoon gekry terwyl ek al op 13 Augustus kon upgrade. Ek het besluit om vir eers Nokia vaarwel te roep en het vir my ‘n LG KU990 gekry. Moet sê ek is baie beïndruk en kan myself al heel goed help op die foon!

Volgende inskrywing Dinsdag

Published September 29, 2008 by Xanika

My volgende inskrywing volg more. Ek wou vandag vertel van die matriekafskeid Donderdagaand en ons besoek aan Vaal Mall Saterdag, maar het my memory stick met foto’s by die huis vergeet en het vandag soveel werk met die dat die baas Donderdag en Vrydag gewerk het en ek nie…

So word ‘n skaap geskeer

Published September 23, 2008 by Xanika

Gistermiddag was ons weereens plaas toe. Hierdie keer om te gaan kyk hoe word ‘n skaap geskeer. Ek kan darem nog onthou van toe ons op die plaas gebly het, maar dis iets wat my laaitie nog nooit gesien het nie.

Maar ook dit was nie vir iemand met ‘n klein hartjie bedoel nie! Party van die skeerders is erg onhandig en toe ons daar aankom is hulle reeds besig om ‘n skaap se been toe te werk. Is maar goed dis nie my skape nie, want ek sou almal self moes skeer om sulke goed te probeer verhoed – wonder hoe lank dit my sal neem om 100 skape te skeer…

Dis verbasend hoeveel kleiner ‘n skaap lyk as hy klaar geskeer is. En al wil die boere graag hê dit moet reën, sal hulle verkies dat dit nie gebeur pas na die skape geskeer is nie.

Indien ek dan nou wel skape gehad het en hulle self moes skeer, sou ek net iemand moes kry om die skaapskêre te slyp, want ek sal sowaar al my vingers in die proses verloor!

My laaitie het ook gehelp om die wol te trap en later toe die twee ooie wat se kleintjies ons die vorige dag in die land gekry het geskeer is, het hy die kleintjies in die bakkie opgepas. Mens kan nie glo hoeveel hulle in een dag gegroei het nie. Die enetjie wat alleen afgeneem is, is die outjie wat so ver moes loop huis toe en waar die twee saam afgeneem is, is dit die agterste een van die twee.

Die laaitie kon toe sommer ‘n slag weer kyk hoe koeie gemelk word, my oom se skape word op die buurman se plaas geskeer, want dan deel hulle twee die koste verbonde aan die skeerders. Hulle was net eintlik veronderstel om net gister te skeer, maar het so laat daar aangekom gister dat hulle vandag eers my oom se skape sal skeer, behalwe vir die twee ooie met lammetjies en een wat baie na aan lam is wat hulle gister geskeer het.

Om te kan boer…

Published September 22, 2008 by Xanika

Jy moet ‘n hart van klip hê om te kan boer. Jy moet nie ‘n lafaard wees nie. Jy moet nie ‘n sensitiewe maag hê nie. En jy moet beslis nie ‘n sagte hartjie hê as dit kom by diere nie.

Ons het die naweek weer by my oom op die plaas gekuier. Vrydagmiddag was ons saam met hom Vereeniging toe, hy is siek en die plaaslike dokters kan nie vasstel wat fout is nie.

Volgens die speliasis is dit ‘n virus wat homself maar moet uitwoed, geen medikasie kan hom help nie.

Ons het Vrydagaand laat eers by die huis gekom en het my oom toe by ons oorgeslaap. Saterdag is ons toe saam met hom plaas toe, want dit was sy verjaardag.

Dit het egter tot gevolg gehad dat die plaaswerkers Vrydagmiddag die skape huis toe moes neem en weer Saterdagoggend veld toe moes vat en hulle gee vir ‘n mense se goed net mooi niks om nie.

Saterdagmiddag het ons saam met my oom gegaan toe hy gaan kyk het hoe gaan dit met die skape en beeste. Dis nou na die een plaaswerker die bakkie teruggebring het waarmee hy dorp toe was, maar net veronderstel is om op die plaas te gebruik om na die vee te kyk wanneer my oom nie daar is nie.

Ons merk toe op dat daar ‘n ooi is wat lê en my oom sê toe daar is fout, sy sukkel om te lam.

Na ons gesien het dat alles reg is by die beeste, het ons al die skape bymekaar gekry en huis toe gejaag.

Die arme ooi het al sukkelende ook by die huis aangekom en het my oom ou Josef laat kom om te kom help.

Na ‘n lang gesukkel in die koue – ons het so gehoop teen die tyd reën dit, maar dit voel alweer soos winter – kon Josef nie die lammetjie uitkry nie.

My pa sê dis oor die lammetjie al ‘n ruk dood is en styf geword het, daarm dat Josef die lam nie gedraai kon kry om dit uit te kry nie.

Ek moet darem sê dat Josef baie mooi met die ooi gewerk het, ek het glad maagpyn gekry uit pure simpatie met die ooi, want sy moes darem bitterlik seer gehad het terwyl hy haar probeer help het.

Maar op die ou end kon sy nie gehelp word nie.

Die natuur is vir my so pragtig en wonderlik en laat my so baie keer sonder woorde om dit te kan beskryf, maar dit kan net so koud, ongenaakbaar en harteloos wees.

Mens voel of jy kan uitroep hoekom. Of jy sommer net jou geloof en alles wat vir jou kosbaar is, weg kan gooi.

En dit oor ‘n skaap. ‘n Arme onnosele skaap. Ek hoor daar word gesê skape vlug nie voor ‘n veldbrand nie. En tog het dit gevoel of my hele lewe ineenstort. Oor een skaap.

Dalk was dit net alles wat op daardie stadium net te veel geword het. Die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het!

Ek sal nie een week hou op ‘n plaas nie. Om naweke daar te kuier wanneer alles vlot verloop, is heerlik, maar wanneer sulke dinge gebeur, weet ek nie of ek weer wil gaan nie.

Want na ‘n ervaring soos hierdie, is ek bly as ek kan huis toe gaan, terug na my eentonige bestaan van jaag tussen punt A en B!

En soms is dit so ‘n gebeurtenis wat nodig is om jou weer op die plek te kry waar jy moet wees. Om net weer te besef hoe nietig jy is en om te alle tye te moet leef asof dit jou laaste kans is en seker te wees dat jou saak met jou Skepper reg is.

Gistermiddag voor ons teruggekom het huis toe, het ons eers weer gehelp om die skape by die huis te kry. En wat ons toe ontdek het, het opgemaak vir Saterdag se aakligheid:

Eers het ons hierdie ooi met ‘n nuwe lammetjie gekry en terwyl ek gesukkel het om my oom in die hande te kry, het sy solank saam met die ander skape begin huis toe loop. Net om elke paar tree te gaan staan, die lammetjie te roep en te wag tot die ou kleintjie by haar kom voor sy weer ‘n paar tree loop en die hele storie herhaal.

En nie ver van hierdie mamma en haar nuwe baba af nie, het ons nog ‘n ooi gekry met ‘n nuwe baba wat nog bietjie meer onlangs as hierdie outjie aangekom het:

Ons het hulle twee op die bakkie gelaai, want hierdie outjie kon nog nie eens behoorlik op sy beentjies staan nie. In tussen het die ander nuwe mamma tot by die huis geloop en was die arme ou kleintjie seker so moeg!

Verjaar…

Published September 19, 2008 by Xanika

Xanika se blog

is al ‘n hele jaartjie

oud

En sonder al my

wonderlike blogmaatjies

se comments

- en ondersteuning

sou niemand eens geweet het

dat ek ook geleef het en

daarom nooi ek een en elk vir

‘n stukkie virtuele tjoklit koek en

virtuele koffie in ‘n teddiebeer beker

(om saam met my en tog alleen)

in my geluk te deel

MasterMind, ens.

Published September 17, 2008 by Xanika

As gevolg van die feit dat ek en my laaitie by my ouers bly, sit ek met ‘n horde kartondose vol goed wat ek nie kan uitpak nie, maar waarvan ek ook nie wil ontslae raak nie (mens weet nooit of jy dit dalk kan nodig kry nie!). So van tyd tot tyd pak ek egter die dose uit – net om dit weer in te pak! En soms ontdek ek goed waarvan ek al vergeet het en soms selfs iets wat ons kan gebruik.

In elk geval, ‘n ruk terug het ek ‘n resep gesoek vir klapperys en die doos waarin my resepteboeke is, is die heel onderste doos in die kas waar ek dit bêre. Vir my laaitie is dit baie lekker om deur die dose te krap, so toe pak ons weer ‘n hele paar onnodig uit. En ontdek toe my MasterMind speletjie. Ek het hom vertel hoe dit werk en nou wil hy nie weer ophou om dit te speel nie!

Gistermiddag was ek en my laaitie gou saam met my ma Spar toe. Op pad ry ons verby ‘n klein vragmotortjie – wat nie veel groter as ‘n bakkie is nie – met ‘n klomp leë watertenks op. Ek kon nie glo hoe die arme bakkie oorlaai is nie en was bly toe hy ook by Spar stilhou en ek ‘n paar foto’s kon neem:

Is al weer koud in die Oos Vrystaat vanoggend. Bethlehem se minimum was blykbaar -1. Gelukkig is die baas nie hier nie, so ek het maar weer die verwarmer aangeskakel! Ons kantoor is ‘n dubbelverdieping, hy werk bo en die res van ons (dis nou ek en die boekhoudster wat sy vrou is en net werk wanneer sy regtig moet) werk onder. Bo is dit baie warmer en hy kan of wil nie verstaan dat ek hier onder nog koud kry nie.

Ek het Maandag hom daaraan herinner dat hy met my sou regmaak vir die maand wat ek na sy besigheid, huis en honde moes omsien sodra hulle terug is en hy het my toe R1,000.00 gegee. Dis meer as wat ek verwag het, hy is nie juis baie vrygewig as dit by geld kom nie.

Volgende is dus die kwessie oor ‘n verhoging. Ek werk al van Desember af alleen terwyl hy vir seker twee jaar voor ek hier begin werk het, twee tiksters / sekretaresses gehad het. Sonder om ‘n sent meer te kry. Vrydag sal ek dus koek werk toe bring – om my blog se verjaardag te vier, maar dit sal ek nie aan hom noem nie, sal net sê dis om dankie te sê dat hulle al langer as ‘n jaar met my opgeskeep sit.

Hiermee dus ook ‘n uitnodiging aan almal wat my blog lees:  Vrydag sal hier tjoklit koek wees…

Wat ‘n naweek!

Published September 15, 2008 by Xanika

Die naweek het ek en my laaitie en my pa weer by my oom op die plaas gaan kuier. Dit was omtrent ‘n besige naweek en soos gewoonlik, heeltemal te vinnig weer verby.

Vrydagmiddag het ons vir die beeste gaan sout gee en ook gekyk of almal nog daar is en dat daar nie enige probleme is nie.

Hierdie koei het gekalf nie baie lank voor ons daar aangekom het nie en kon ons nog sien hoe die kalfie sukkel om op te staan. Dis darem wonderlik dat hulle binne ‘n paar minute al kan staan en suip. Die kalfie aan die linkerkant was seker net nuuskierig om te sien wat aangaan, want die res van die trop was seker so honderd meter weg en het hy later al bulkende na sy ma gaan soek.

Wanneer die kalfies oud genoeg is om gespeen te word, word so ‘n stekelrige ring aan die neus gesit. Ek het gesukkel om die foto geneem te kry, maar toe ek klaar is, toe loop die kalf al agter my aan asof hy wil sê nou kan jy maar ‘n foto neem!

Die swart kalfies is vir my die mooiste, maar daar is ook van die bruines wat tog te pragtig is. Ons stry altyd, want my pa dink die bruines (of dan nou rooies…) is die mooiste!

Na ons klaar by al die beeste was en die sout in elk geval ook op was, het ons die skape gaan haal, want hulle slaap elke nag by die huis. Dit is nou makliker om hulle by die huis te kry, want hulle weet hulle kry mielies. In die somer wanneer dit nat is en daar baie kos in die veld is, sukkel mens om die klomp by die huis te kry.

‘n Hans skaap is darem iets vreesliks. Hierdie hans dink nog steeds sy verdien die beste aandag en gee omtrent nie die ander skape kans om ook mielies te kry nie. My laaitie het omtrent gesukkel om weer die blik terug te kry na sy haar kop daarin gedruk het.

Sy eet sommer die mielies uit mens se hand ook. Ek was eers bietjie skrikkerig, maar dis meer soos ‘n stofsuier wat die mielies uit jou hand uit suig as iets anders!

Vroeg Saterdagoggend het my oom en ‘n vriend van hom die skape gespuit en die lammers gemerk en rekkies aan hulle sterte gesit, maar ons het te laat geslaap om dit te sien…

Sondagoggend was ons skaars almal uit die bed toe my ook kom vra ons moet gaan help, een van die beestroppe is deur die drade na ‘n buurman se plaas. Hier is ons by die draad waardeur die beeste gebreek het en die bome en plaashuis in die agtergrond is waar ons die beeste moes gaan haal!

Net sodra jy dink al die beeste loop nou in die regte rigting, breek een of twee weer weg en is die res agter hulle aan! Daar is nie ‘n dam in die kamp waar hulle loop nie en hulle was seker moeg daarvoor om net water uit ‘n krip te drink! Na ons omtrent seker twee ure gesukkel het, was almal darem terug in die kamp waar hulle veronderstel is om te bly.

En na ons die draad reggemaak het, kon ons uiteindelik weer huistoe gaan. Na middagete (wat gewoonlik eers so teen drie uur in die middag is!) het ons eers weer gehelp om die skape te gaan haal en na koffie het ons weer gery.

So ‘n naweek op die plaas is net wat mens nodig het om van jou gejaagde lewe te vergeet. En die week begin hulle skeer, so die naweek is ons seker weer daar…

9/11

Published September 11, 2008 by Xanika

Daar is seker min mense ouer as 7 vir wie 9/11 nie herinneringe bring nie.

Dit voel soos gister toe ek en my laaitie – wat toe nog nie 2 maande oud was nie – saam met my eks Pretoria toe gery het om sy sussie by die Kollege te gaan haal en ons oor die nuus gehoor het van die aanvalle op Amerika.

Daar sal seker nooit 100% sekerheid wees oor wat presies gebeur het nie. Dis nou werklik ‘n geval van soveel hoofde soveel sinne.

Al wat met sekerheid gesê kan word, is dat baie mense se lewens ingrypend verander is!

Is interessant om te lees oor wat moontlik kon gebeur het en hier kan mens heelwat inligting kry.

Blog toekenning – 02-09-2008

Published September 10, 2008 by Xanika

Ek het die volgende blog toekenning van Boskind af ontvang. Met die baas wat terug is by die kantoor gaan dit bietjie rof en het ek dit vanoggend eers ontdek…

Baie dankie Boskind, ek was heel verstom om dit te sien en waardeer dit ongelooflik baie. Ek geniet jou blog, is lekker om oor ander mense se lewens ook te lees en jou foto’s maak dit lewend.

Friend Boskind is one of the sweetest and most thoughtful online friend I have the privilege to know. Pay her a visit here

Bossie dit is voorwaar ‘n voorreg om ons tweetjies se lewe met jou te kan deel.

awards

Die reëls is eenvoudig:

1. Maak ‘n blog inskrywing en gee die toekenning aan sewe ander blogs waarvan jy hou.

2. Gaan na hulle blogs en vertel hulle dat hulle ‘n toekenning van jou gekry het.

En in geen spesifieke orde nie gaan die blog toekennings aan (drum roll) :

Pampoen : Ons chat so lekker in SSSB se chatroom

Ninette : Jou liefde vir honde is aansteeklik

Dirk : Jy blog nou wel nie baie gereeld nie, maar jou vriendskap beteken vir my baie

Eendjie : By jou is altyd iets om oor te lag, te dink of wat vir my iets beteken

Jenny : Elke dag se gesels maak op vir my eensame, plattelandse bestaan

Thasia : Jou malhuis is ‘n welkome verandering van die normale wêreld!

Kokkewiet : Omdat jy ook ‘n enkelmamma is en weet hoeveel dit van mens verg om so alleen te “cope”

Geniet julle toekennings, elkeen van julle verdien dit.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 28 other followers