Gistermiddag was ons weereens plaas toe. Hierdie keer om te gaan kyk hoe word ‘n skaap geskeer. Ek kan darem nog onthou van toe ons op die plaas gebly het, maar dis iets wat my laaitie nog nooit gesien het nie.
Maar ook dit was nie vir iemand met ‘n klein hartjie bedoel nie! Party van die skeerders is erg onhandig en toe ons daar aankom is hulle reeds besig om ‘n skaap se been toe te werk. Is maar goed dis nie my skape nie, want ek sou almal self moes skeer om sulke goed te probeer verhoed – wonder hoe lank dit my sal neem om 100 skape te skeer…
Dis verbasend hoeveel kleiner ‘n skaap lyk as hy klaar geskeer is. En al wil die boere graag hê dit moet reën, sal hulle verkies dat dit nie gebeur pas na die skape geskeer is nie.
Indien ek dan nou wel skape gehad het en hulle self moes skeer, sou ek net iemand moes kry om die skaapskêre te slyp, want ek sal sowaar al my vingers in die proses verloor!
My laaitie het ook gehelp om die wol te trap en later toe die twee ooie wat se kleintjies ons die vorige dag in die land gekry het geskeer is, het hy die kleintjies in die bakkie opgepas. Mens kan nie glo hoeveel hulle in een dag gegroei het nie. Die enetjie wat alleen afgeneem is, is die outjie wat so ver moes loop huis toe en waar die twee saam afgeneem is, is dit die agterste een van die twee.
Die laaitie kon toe sommer ‘n slag weer kyk hoe koeie gemelk word, my oom se skape word op die buurman se plaas geskeer, want dan deel hulle twee die koste verbonde aan die skeerders. Hulle was net eintlik veronderstel om net gister te skeer, maar het so laat daar aangekom gister dat hulle vandag eers my oom se skape sal skeer, behalwe vir die twee ooie met lammetjies en een wat baie na aan lam is wat hulle gister geskeer het.



















My baas is baie gaaf en het my Donderdag en Vrydag afgegee – kry my blykbaar jammer oor ek nog nooit hierdie jaar verlof gevat het nie!
My volgende inskrywing sal dus seker eers weer Maandag volg…
Comment deur Xanika — September 23, 2008 @ 10:00 vm |
Baie oulike inskrywing, julle is gelukkig om al die dinge te beleef!
Wipneus sou ‘n baie swak boervrou gewees het.
Ek sal vreeslike tantrums gooi as hulle my skaap raak skeer!!
Comment deur Wipneus! — September 23, 2008 @ 10:11 vm |
Wipneus ~ baie dankie. Ek was nogal lus om ‘n tantrum te gooi, maar die spul het my al klaar skeef aangekyk oor ek so baie foto’s geneem het!
Comment deur Xanika — September 23, 2008 @ 10:14 vm |
Ek onthou hoe ons as kinders die wol in die bale vasgetrap het, en blinkbeen uitgeklouter het. Met moeg kuite, natuurlik.
Jou kind is gelukkig dat jy hom al die goeters leer en laat ervaar. Hou so aan.
Comment deur Skoor — September 23, 2008 @ 12:17 nm |
Skoor ~ ek’s dankbaar dat ek dit vir my laaitie kan doen. Ek dink soms geniet ek dit meer as hy, maar ek glo nie hy sal alles sommer net vergeet nie.
Comment deur Xanika — September 23, 2008 @ 1:20 nm |
Jou seun sal jou later ewig dankbaar wees vir al hierdie dingetjies waaraan jy hom blootstel.You go girl
Comment deur slons — September 23, 2008 @ 2:39 nm |
slons ~ baie dankie.
Comment deur Xanika — September 23, 2008 @ 2:47 nm |
Hallo Xanika
Die skape wat geskeer word laat my altyd dink aan ” Thornbirds”, die TV reeks lank terug wat in Australia afgespeel het…
Lekker vir jou seuntjie om dit eerstehands te beleef het.
Geniet jou twee af dae.
Comment deur Ninette — September 25, 2008 @ 8:57 vm |
Lekker op die plaas! Jy is reg – boerdery is nie vir sussies nie, ek het selfs op ‘n staduim so half oorweeg om landbou op te neem as iets om te doen sodra ek besluit het om op te hou werk in die buiteland. Ek het egter vinnig tot die slotsom gekom dat jy ‘n boer gebore word, of dan groot moet word in die bedryf om dit regtig suksesvol te wees. Jou seun doen ervaring op wat deesdae min kinders beskore is.
Comment deur George — September 28, 2008 @ 11:15 vm |
Ninette ~ dankie, my tydjie af was net heeltemal te kort!
George ~ dankie, dit is jammer dat dit vandag so min kinders beskore is.
Comment deur Xanika — September 29, 2008 @ 8:56 vm |