Oktober 31, 2008
Oktober 29, 2008
Eerste swem van die seisoen
Gistermiddag het ons vir die eerste keer na die winter weer gaan swem. Of moet ek sê my laaitie het geswem, die water is nog heeltemal te koud na my sin. Hy het dit baie geniet en is glad nie meer so bang soos voorheen nie. Hopelik kan ons hom voor die einde van die jaar leer swem.
Oktober 27, 2008
My naweek vol hondjies
Die naweek het baie suksesvol verloop. Ons het Vrydag twee keer, Saterdag drie keer en Sondag twee keer na die hondjies gaan kyk en hulle melk gegee. Saterdagnag het dit gereën en was ek bietjie bekommerd oor die hondjies, maar Sondagoggend was almal droog en lewendig!
Dit het maar moeilik gegaan om vir die ma melk te gee met die dat sy nie eintlik naby my wil kom nie en elke keer het ons iets anders probeer om haar te laat drink, maar net as ek dink nou werk ons plan, dan het sy weer ander planne. Ons het dit darem twee keer reggekry dat sy gaan drink het en het ek haar deur die een kamervenster dopgehou. Die pa het ons net amper weggegee, want hy kom loer kort-kort deur die venster!
My pa en ma is ook mal oor die hondjies en my pa het een keer saamgekom terwyl my ma drie keer saamgekom het om te help. Sondagmiddag het ons met ‘n paar van die hondjies op die gras gespeel, net twee op ‘n slag, want die tuin is vol dammetjies. Die meeste het gehuil en wou teruggaan hok toe, maar die enetjie het dit baie geniet – het tot ‘n stokkie opgetel en daarmee rondgehardloop! Die een wat ek vashou was die enigste een wat niks gehuil het nie en toegelaat het dat ek hom (haar?) ‘n hele rukkie kon ronddra.
Die naweek het soos gewoonlik heeltemal te vinnig verbygevlieg en is ek bly dat alles goed afgeloop het. Sondagoggend het die baas gebel om te hoor hoe gaan dit met die hondjies en was ons op daardie stadium by hulle en kon ek hom die versekering gee dat dit baie goed gaan. Nie eens gevra hoe gaan dit met my nie…
Oktober 23, 2008
‘n Seerower, ‘n lappop en 7 klein hondjies
Nou die middag het my laaitie weer ‘n slag buite gespeel. Party dinge kan ek nie lekker verstaan nie. Soos dat kinders wil buite speel wanneer hulle nie kan nie en wanneer hulle kan, sit hulle die hele dag in die huis. Maar nou ja, dis nou maar seker een van daardie dinge. Wat hy gespeel het weet ek nie, maar dit het seker iets met seerowers te doen gehad:
Ek het hierdie week weer ‘n lappop klaargemaak. ‘n Tyd terug het ek vir ‘n vriendin twee poppe gemaak en het een van my ou skoolmaats die foto’s hier gesien en laat weet sy “sal baie graag presies dieselle wil he as die een met die rooi hare met dieselle rokkie materiaal? dis darem te pragtig!!” Dis nogal ‘n uitdaging om ‘n pop dieselfde te maak as ‘n vorige een en ek hoop sy gaan tevrede wees.
Ek werk nou twee middae ‘n week om my ouers te probeer help noudat my ma nie meer werk nie. Die idee was dat my laaitie dan by ouma moet bly – hy het Maandae blokfluitlesse en Woensdae Voortrekkers en dan is dit in elk geval nie die hele middag nie. Ek het gedink hy sal dit geniet om weer by sy ouma te kan bly, maar dit is toe nou nie die geval nie. Hy kom baie eerder kantoor toe. Sy plan is seker om met die hondjies te kan gaan speel, maar ons wil nie hê hy moet alleen gaan nie so hy moet in elk geval by my in die kantoor bly tot ek klaar gewerk het en ons dan dalk na die hondjies kan gaan kyk. Nie dat dit vir my ‘n probleem is nie, sy Graad 1 huiswerk hou hom omtrent ‘n uur lank besig en dan is daar net sowat ‘n halfuur oor voor ek kan loop. Gistermiddag het ons toe weer na die hondjies gaan kyk na ons hulle laasweek Donderdag laas gesien het en ek kan nie glo hoeveel hulle gegroei het nie. Hulle is so pragtig, mens wil hulle net vasdruk! My baas het my vanoggend gevra of ek die naweek by die huis is, want hulle gaan weg en soek iemand om na die hondjies te kyk. Ek kan nie wag nie… En dan kan die laaitie sommer solank oefen vir as ons die hondjie oor sowat drie weke kan kry. 
Oktober 22, 2008
André Pretorius Fotografie
Vandag wil ek bietjie gratis publisiteit aan een van my ou kennisse gee. Ek het André leer ken toe ek in Kroonstad in die kollege was en kon soms ‘n geleentheid saam met hom kry om huis toe te kon gaan. Ek het nie toe geweet dat hy foto’s neem nie, het dit eers uitgevind toe my laaitie in die kleuterskool was en hy baie van die foto’s geneem het en kan hom regtig met groot vrymoedigheid aanbeveel by enigiemand wat foto’s wil laat neem. Hy het ook hierdie jaar die skool se foto’s geneem en ek was baie beïndruk met my laaitie se foto’s. Ek weet nou nie wat sy kostes beloop vir byvoorbeeld ‘n troue nie, maar van almal wat foto’s by die kleuterskool geneem het was hy die goedkoopste al was sy foto’s beter.
Loer gerus in by André Pretorius Fotografie en vra hom vir ‘n kwotasie wanneer jy weer foto’s vir ‘n troue of vir wat se geleentheid ook al wil laat neem.
































