Nou die middag het my laaitie weer ‘n slag buite gespeel. Party dinge kan ek nie lekker verstaan nie. Soos dat kinders wil buite speel wanneer hulle nie kan nie en wanneer hulle kan, sit hulle die hele dag in die huis. Maar nou ja, dis nou maar seker een van daardie dinge. Wat hy gespeel het weet ek nie, maar dit het seker iets met seerowers te doen gehad:
Ek het hierdie week weer ‘n lappop klaargemaak. ‘n Tyd terug het ek vir ‘n vriendin twee poppe gemaak en het een van my ou skoolmaats die foto’s hier gesien en laat weet sy “sal baie graag presies dieselle wil he as die een met die rooi hare met dieselle rokkie materiaal? dis darem te pragtig!!” Dis nogal ‘n uitdaging om ‘n pop dieselfde te maak as ‘n vorige een en ek hoop sy gaan tevrede wees.
Ek werk nou twee middae ‘n week om my ouers te probeer help noudat my ma nie meer werk nie. Die idee was dat my laaitie dan by ouma moet bly – hy het Maandae blokfluitlesse en Woensdae Voortrekkers en dan is dit in elk geval nie die hele middag nie. Ek het gedink hy sal dit geniet om weer by sy ouma te kan bly, maar dit is toe nou nie die geval nie. Hy kom baie eerder kantoor toe. Sy plan is seker om met die hondjies te kan gaan speel, maar ons wil nie hê hy moet alleen gaan nie so hy moet in elk geval by my in die kantoor bly tot ek klaar gewerk het en ons dan dalk na die hondjies kan gaan kyk. Nie dat dit vir my ‘n probleem is nie, sy Graad 1 huiswerk hou hom omtrent ‘n uur lank besig en dan is daar net sowat ‘n halfuur oor voor ek kan loop. Gistermiddag het ons toe weer na die hondjies gaan kyk na ons hulle laasweek Donderdag laas gesien het en ek kan nie glo hoeveel hulle gegroei het nie. Hulle is so pragtig, mens wil hulle net vasdruk! My baas het my vanoggend gevra of ek die naweek by die huis is, want hulle gaan weg en soek iemand om na die hondjies te kyk. Ek kan nie wag nie… En dan kan die laaitie sommer solank oefen vir as ons die hondjie oor sowat drie weke kan kry. 



Hallo Xanika. Kinders en grootmense is dieselfde. Grootmense is lang kinders met rekeninge. Om nie te wil he wat jy kan kry nie en te wil he wat jy nie kan kry nie is die grootste frustrasie en ook dryfveer van die mens. Jou pop is pragtig! Emma.
Comment deur Emma Dixon — Oktober 26, 2008 @ 4:29 nm |
Emma ~ baie welkom en baie dankie. Ek hou van jou beskrywing van grootmense, dit is so waar.
Comment deur Xanika — Oktober 27, 2008 @ 7:44 vm |