November 28, 2008
November 27, 2008
Rooi melk
Het vanoggend foto’s ontdek waaroor ek nog nie geblog het nie. Ook maar goed so, anders weet ek nie waaroor ek vandag sou blog nie!
Die laaste keer toe ons by my oom op die plaas was, was daar ‘n hanslam. Die outjie se mamma is al baie oud en sy het net nie genoeg melk nie. My oom het toe maar die lammetjie, ‘n ooitjie, by haar mamma weggevat om haar self groot te maak.
Kiara was maar taamlik skrikkerig en het dit net een keer naby die lammetjie gewaag. Sy het egter nie omgegee om die melk te drink wat my oom op die gras gegooi het wat die lammetjie nie wou drink nie.
Ek wonder nou net waarheen is ons ou wêreld oppad. Die melk word rooi gekleur om te verhoed dat dit gesteel word…
November 25, 2008
KIT Braaidag 2008
Sondag was een van die lekkerste dae in ‘n lang tyd. Ek en my laaitie het die naweek vir Renchia gaan kuier en Sondag was ons na die Kit Braaidag. Die tema was Alice in Wonderland en daar was ‘n prys vir die beste hoed.
Ek het nie ‘n idee gehad wat om te verwag nie, ek het eers laasjaar na Braaidag by KIT aangesluit en was nog nie ‘n oomblik spyt daaroor dat ek wel aangesluit het nie.
Ons is vroeg die oggend al weg na Sanet toe in Alberton, want ons het sommer saam met haar gery en was seker so 10:00 in Centurion. Dit was by die Centurion Society of Model Engineers en die kinders het dit baie geniet om te kon treintjie ry soveel hulle wou.
Toe ons daar aangekom het, het elkeen ‘n kaartjie gekry vir gratis spookasem en was my laaitie baie bly daaroor, want hy is mal oor spookasem. Hy het dit baie geniet en na hy klaar was, moes ek eers sy gesig gaan was!
O ja en Ollie die nar was daar om die kinders te vermaak. My laaitie is mal oor hom en ek het omtrent gesukkel om hom so ver te kry om vir Natasha hallo te sê.
Ons het baie lekker gekuier en die hoogtepunt was natuurlik Steve se aankoms.
Verder het ek ook lekker gesels met almal en Suzanne en Natasha was baie bly oor hul poppe.
Steve het my “mense van my asem” geteken – daardie moeilike boek! En ek het Ralph ontmoet.
O ja, en my laaitie en Benjamin het ‘n woordewisseling gehad! Ek kon nie hoor waaroor dit gegaan het nie, maar dit het in Afrikaans gebeur. 


Ons was veronderstel om Sondagaand 18:00 terug te wees vir ons kerk se kerssangdiens en die uitdeel van die Sondagskool se sertifikate, maar was eers 20:00 terug. Ek hou nie baie daarvan om in die donker te ry nie, maar die sonsondergang maak dit altyd die moeite werd!
Whatever will be will be…
Of sal dit? Ek het aansoek gedoen vir ‘n ander werk. Die salaris is R700 minder as wat ek op die oomblik kry, maar tog is ek lus om dit te vat as ek dit kan kry.
Ek het verlede week uiteindelik die moed bymekaar geskraap om met my baas oor my salaris te praat. Ek het verlede jaar Junie hier begin werk. Op daardie stadium was hier ook nog ‘n ander tikster wat ook halfdag gewerk het, maar glad nie vakansies nie. Die baas het toe voorgestel dat ek in die middae kan werk wanneer ek wil vir dubbel wat ek in die oggend verdien.
Geld is altyd welkom. Ek meen, nie een van ons kan daarsonder klaarkom nie. In elk geval nie enigiemand wat ek ken nie. Maar dit gaan lankal nie meer daaroor nie.
Desember toe die kantore gesluit het verlede jaar, het die baas toe vir die ander tikster gesê om nie terug te kom wanneer die kantore weer in Januarie oop maak nie. Ek werk dus vanaf Januarie alleen, doen twee se werk sonder ‘n sent ekstra vergoeding.
En al gaan dit nou nie oor die geld nie, wil mens darem voel of jy raakgesien word.
Verlede Desember het ek BAIE oortyd gewerk en het sodoende meer as dubbel my gewone salaris verdien. Die dag toe die kantoor sluit en die baas my groet, het hy gesê hy sal my bel sodat ek vir my ‘n bonustjek kan kom haal. Hy het toe seker besluit ek het genoeg met oortyd verdien en hoef nie bonus te kry nie, want tot vandag het ek nie ‘n sent gekry nie.
Ek het dit ook aan hom genoem verlede week. En dat ek nie verwag om dubbel betaal te word oor ek alleen werk nie, maar dat hy darem ‘n aanpassing aan my salaris kon gemaak het.
Van tyd tot tyd kyk ek na sy honde wanneer hulle weggaan. Hulle was vir langer as ‘n maand weg so paar maande terug en het hy gesê hy sal my vergoed as hulle terugkom. Hy het my R1000 gegee toe ek hom daaraan herinner na hulle al omtrent twee weke terug by die huis was. Naweke vra hy my soms ook om na die honde te kyk en bied gewoonlik nie aan om te betaal nie. Ek neem dan maar aan ek doen dit verniet. So tyd terug het hy gesê hy sal my iets gee en het ek hom ook daaraan herinner. Hy het my toe R200 gegee. Die volgende naweek toe hulle weer weggegaan het, was die naweek toe my laaitie sy hondjie kon kies en het ek nie toe enige vergoeding verwag nie, want ons het die hondjie verniet gekry.
Twee naweke terug was hulle weer weg en het hy weer gesê hy sal my iets gee. Ek het verlede Donderdag met hom oor my salaris gepraat en Vrydag het hy my R200 gegee. Ek weet nou nie of dit die bonus vir laas Desember is en of dit ekstra tot my salaris is oor ek alleen werk en of dit is vir die naweek wat ek die honde opgepas het nie.
Al antwoord wat ek gekry het oor die bonus en salaris was dat dit op die oomblik nie so goed gaan met die besigheid nie en dat hy van sy pensioen leef.
Hoe leef mens met jou gewete saam as jy so lieg? Of is jy naderhand so gewoond daaraan dat dit nie meer saak maak nie?
As dit so swaar gaan, hoe kan hulle omtrent elke tweede naweek weggaan? En hoe gaan mens dan vir langer as ‘n maand weg en los jou besigheid in jou sekretaresse se hande? En koop allerhande potte en klippe en plante vir jou tuin?
Om nie te praat van die gordyne en kussingoortreksels wat gereeld vervang word nie!
En moet nie al die vliegtuigspeletjies vir die rekenaar vergeet nie. En natuurlik die radiobeheerde vliegtuie self. En vroulief se naaldwerkklasse elke week.
En o ja, ek plaas die fooie oor van die trust na die besigheid en dit lyk vir my glad nie so sleg nie.
Dalk is ek net jaloers. Of dalk is dit tyd vir iets anders. My droom van kleintyd af was om kleuterskoolonderwyseres te word en kantoordame by ‘n kleuterskool is seker nou die naaste wat ek daaraan sal kom. As ek daaraan dink dat ek en my kind dan sommer kan loop, want die kleuterskool is oorkant die skool en dis net twee blokke van ons huis af wat beteken dat ek klaar omtrent R400 per maand net aan petrol kan spaar, lyk die R700 verskil klaar nie so groot nie.
En die idee van 4 betaalde vakansies per jaar en om nie in die middae te werk nie en dat ek dan wel die tyd sal hê om by die Voortrekkers betrokke te raak…
Ek gaan my beste gee by hierdie onderhoud. En as ek die werk kry, is dit ook wat ek bereid is om te doen, my beste te gee.
Ek glo as ek hierdie werk moet kry, dan sal ek. En dan sal die tekort op my salaris nie saak maak nie. Want dan is dit so bestem. En dan kan ek my lappoppe beter adverteer, want deur slegs drie lappoppe ‘n maand te verkoop, kan ek die R700 terugkry…
November 24, 2008
Nog lappoppe
Hierdie lappop met die rooi hare en groen rok is die een waaraan ek nog die langste gewerk het. Ek het voor verlede Kersfees met haar begin en haar sowat twee weke gelede eers klaargemaak! Die rede is dat ek verlede jaar voor Kersfees met vier poppe begin het sonder dat ek bestellings gehad het en die ander drie intussen eienaars gekry het en ek ander bestellings gekry het met die gevolg dat die een wat nog nie ‘n baas gehad het nie, toe nooit klaargemaak was nie. Maar nou is sy uiteindelik klaar en beskikbaar om bestel te word sonder dat die persoon wat haar wil hê sal nodig hê om te wag.
Daarna het ek met ‘n nuwe pop begin waarvoor ek ook nie ‘n bestelling het nie en wat ek verlede Vrydag klaargemaak het. Sy is dus ook op hierdie stadium nog beskikbaar indien enigiemand sou belangstel.
Gister het ek hierdie twee aan hul nuwe eienaars oorhandig. Die een met die wynrooi en room rok het ek vir Suzanne gemaak na sy gesê het sy sal graag ‘n pop wil hê en was sy baie bly oor haar pop. Die ander een met die room en bruin broekie en hempie het ek vir Natasha as ‘n verrassing gemaak en is ek so bly dat ek dit persoonlik aan haar kon oorhandig en was sy baie bly daaroor.






















