Xanika se Blog

April 9, 2009

Vakansie – Crocworld (deel 4)

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 11:03 vm

Woensdag was ons Uvongo toe, ek het ‘n afspraak gehad om Ninette die middag by Shelly Centre te ontmoet en op pad soontoe het ons Crocworld besoek.

ingang-by-crocworld

crocworld

Ons was weereens gelukkig, ons kon sien hoe van die krokodille kos kry. Voor dit het ons nog genoeg tyd gehad om deur die hele plek te loop en was daar ook apies, ‘n hele paar soorte voëls (visarende, eende, swart swane, ‘n mooi veelkleurige fisant, papegaaie, rooi ibisse, ‘n Rhea wat nie daarvan hou dat hy/sy afgeneem word nie, toucans), skilpaaie wat tussen sommige van die voëls bly, ‘n likkewaan, meerkatte en slange.

voels

rhea-en-ander-diere

klein-krokodilletjie-op-rotse-in-voelpark

waterval-in-voelpark

Daar is ook ‘n hele tuin vol broodbome.

broodboom

En dan was daar natuurlik krokodille. Baie van hulle. As ek reg gehoor het, sowat 13000 van hulle! Maar dis nou seker nie almal groot krokodille nie, behalwe vir die een kleintjie tussen die voëls het ons nie enige kleintjies gesien nie, maar daar moet sekerlik iewers kleintjies wees. En blykbaar is daar nog iets soos 5000 eiers ook.

krokodille

Daar is ‘n houtbrug oor een van die krokodildamme waaroor mens blykbaar voorheen kon loop, maar daar is ‘n ernstige waarskuwing en sommer ‘n klomp kopbene ook om jou nog meer die skrik op die lyf te jaag.

danger

Dan was daar ook Henry, wat blykbaar die oudste bekende krokodil is wat saam met sy tien vrouens bly en blykbaar meer as 400 kleintjies ‘n jaar produseer.

henry

Ons was baie verbaas toe ons hierdie krokodil roep en hy/sy kom sowaar, maar later toe ons gaan kyk hoe die krokodille kos kry, kon ons dit heel goed verstaan. Die krokodil het so naby aan die draad gekom, dat ek amper lus was om aan die ding te vat (ek wonder of ek dalk koorsig was!).

krokodil-kom

Laastens het ons gaan kyk hoe kry die krokodille kos. Die swart man op die foto by die hek, het daar gaan staan en hulle geroep en dit was nie lank nie, toe begin hulle aankom. En ek het gedink krokodille is onnosel. Iewers het ek ook gehoor dat hulle nie baie goed kan sien nie, maar ek glo dit nou glad nie meer nie. Wanneer die man die kos oor die hek gegooi het, het dié in wie se rigting hy gemik het, dadelik hulle koppe opgelig. En soms was die stuk vleis selfs raakgevang. ‘n Paar stukke vleis het op die grond geval, een stuk sommer voor ons en is dit nogal vreesaanjaend om te sien hoe ‘n krokodil vreet terwyl daar net ‘n draadheining tussen jou en die krokodil is!

krokodille-kry-kos

Ons het gaan koeldrank koop voor ons verder gery het, en het my ma my digitale kamera op die harde teëlvloer laat val. Dit het uitmekaar gebars en was ek amper lus en doen dieselde. Maar ek het gelukkig net toe besef dit is net ‘n kamera en dit was net ‘n ongeluk, al was sy veronderstel om dit in die sakkie te bêre nadat sy klaar foto’s geneem het en sy die bandjie oor haar arm kon laat hang het. Ek het dit net so gevat en in die sakkie gesit en nie verder daaroor gepraat nie.

Van Crocworld af is ons na Uvongo na ons ‘n keer of wat moes omdraai omdat daar aan die Suidkus pad gewerk word en ons nie daarvan geweet het nie. Daar aangekom het ons eers ‘n draai by een van my gunsteling winkels gaan maak voordat ons na die strand gaan kyk het. Ons was werklik geskok om te sien hoe dit lyk, ons was in November 2006 vir ‘n naweek in Margate en het ook ‘n draai gemaak in Uvongo en die laaitie het die strand baie geniet – waarvan daar nou geen teken meer is nie. Toe ek ‘n poskaart vir 007meisie gaan koop het, het ek aan die vrou genoem dat hulle nou nuwe poskaarte sal moet druk en het sy gesê dat dit weer sal regkom. Mag wees, maar beslis nie binnekort nie.

uvongo

Daarna is ons na Shelly Centre en het my ma en pa deur die winkels gaan loop terwyl ek en die laaitie vir Ninette gaan ontmoet het. Ons het lekker gekuier en ‘n uur het heeltemal te vinnig verbygevlieg. Behalwe vir die laaitie, dit was vir hom baie vervelig en in die proses om homself te vermaak, het hy ‘n kwart glas coke op my omgegooi! Baie dankie Ninette, dit was heerlik om saam met jou te kon kuier en ek hoop ons sal eendag dit weer kan doen.

ek-en-ninette

4 Kommentaar »

  1. Jou foto’s is stunning en ek voel of ek sam met julle op vakansie was. Dankie….

    Comment deur boebelaberry — April 9, 2009 @ 12:25 nm |Reply

  2. boebelaberry ~ baie dankie, is ‘n groot plesier.

    Comment deur Xanika — April 9, 2009 @ 12:32 nm |Reply

  3. Xanika, ek het dit net so geniet! :) Ek hoop ook ons kan weer so maak. En gelukkig het jou boek niks oorgekom met die coke-omgooiery nie … hehe!

    Comment deur Ninette — April 9, 2009 @ 8:12 nm |Reply

  4. Ninette ~ dankie tog daarvoor ja!

    Comment deur Xanika — April 14, 2009 @ 8:12 vm |Reply


RSS skakeling vir menings op die blad. TrackBack URI

Lewer kommentaar

Aangedryf deur WordPress.com