Xanika se Blog

Mei 28, 2009

Good Hope

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 12:28 nm

Vir die eerste 16 jaar van my lewe het ek op ‘n plaas gebly. Ek het dit baie geniet, maar besef vandag eers wat ‘n voorreg dit was. Ons plaas was op ‘n klein afdraaipaadjie en was dus redelik afgesonder. Dit was veilig. In elk geval baie veiliger as vandag.

Dis die huis waarin ek die eerste 16 jaar van my lewe gebly het

Hoe lekker sou dit nie gewees het as daar destyds toe ons nog op die plaas gebly het nie, al digitale kameras was nie. My ma het gedurig met my baklei oor ek alles wil afneem en sy moet betaal vir die ontwikkeling van die films. Ons plaas het ‘n redelike groot dam gehad en daar het ‘n spruit deur die plaas geloop.Bome langs die huis

Die dammetjie onderkant die huis is droog

Voorheen was hier 'n rotstuin

Hier was my slaapkamer

Die strykkamer

Die kleinhuisie is afgebreek

Die aartappelkamer

My ma vertel dat ek baie lief was vir die hoenders en dat ek nie daarvan gehou het as hulle die heeldag in die hoenderhok moes bly nie. Ons het soms in die oggend die hok vir hulle oopgemaak en teen die aand sou meeste self weer teruggegaan het hok toe. Dit was egter ‘n gesukkel om almal terug te kry en van tyd tot tyd sou my ma vir my sê dat ek nie die hok mag oopmaak nie.

Nie dat ek my veel daaraan gesteur het nie en het maar aangehou om die hok te gaan oopmaak wanneer ek sien die hoenders sit nog steeds in die hok!

Ek is van kleins af lief vir winkels toe gaan en my ma het toe besluit genoeg is genoeg en as ek nou weer die hoenders gaan oopmaak as sy gesê het ek mag nie, sal ek by die huis bly as sy dorp toe gaan. Een oggend het sy toe weer gesê ek mag nie die hoenders oopmaak nie en dat sy dorp toe gaan en as ek dan nou nie wil luister nie, sal ek dan maar by die huis moet bly.

Dis nou seker nie moeilik om te raai wat gebeur het nie! Ek het soos gewoonlik die hoenders gaan oopmaak en my ma het my sowaar by die huis gelos. Of dit gehelp het weet ek nie, het haar nie gevra of ek ooit weer die hoenders gaan oopmaak het as sy gesê het ek mag nie.

 

Die hoenderhok is nie mooi sigbaar in die skadu nie

Die hoenderhok

Daar was 'n tyd toe die hoenders hier kon eiers lê

Pa en ma voor die hoenderhok

By een van hierdie store het ek per ongeluk met 'n trekker uitgery - en ek was nog nie eens in die skool nie

Op hierdie dakke het ek ure gespeel

Pa se werkswinkel huisves nou varke

Pa het hierdie skuur begin bou, maar nooit voltooi nie

En al waarvoor dit nou goed is, is 'n varkhok

Die varke van naby

Die populierbos

Dit lyk baie gelyk maar daar is 'n damwal en redelike groot gronddam

Die dip is besig om toe te groei

Nee, dit het nie so gelyk toe ons nog daar gebly het nie

Die huis uit 'n ander hoek

Die sinke was nie daar toe ons daar gebly het nie

Hierdie gepleisterde muur was besig om om te val toe ons getrek het

Kan nie glo dat daar sowaar nog van die stuthoute is nie

Die ou enjinkamer is bouvallig

Die kraalmure is afgebreek

Ek wonder wat gaan deur my pa se gedagtes

Hier was die dammetjie waar ek paddavissies gevang het

Uitsig oor die plaas

Die boom het baie gegroei

Van die plaaswerkers se huise is nou geen teken meer nie

Wens net ek het toe al besef wat ‘n voorreg dit is, vandag verlang ek terug plaas toe, maar wil ek ook nie regtig op ‘n plaas bly nie. As ek dink hoe ek – alleen – spruit toe geloop en daar tussen die rotse gespeel het, kan ek nie glo dat dit maar net bietjie meer as 17 jaar is vandat ons dorp toe getrek het nie.

Ek het graag langs die spruit gaan loop - alleen

Nog 'n stuk van die kranse by die spruit

Good Hope se opstal

Loer hier vir ‘n paar foto’s wat geneem was terwyl ons nog op die plaas gebly het.

Mei 27, 2009

Dis winter…

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 10:12 vm

Soek oral hitte

Die winter het ons stewig beet in sy ysige greep. Wanneer ek in die middag by die kantoor uitstap, is ek verbaas om te voel hoe warm dit buite is. Gister sou jy meer warmte by ‘n sneeuman kon kry as by my!

Laaitie en ThembaDie baas en sy vrou het die koue vir ‘n week lank ontglip en ek en die laaitie moes weer na die honde kyk. Hy geniet dit baie en ek weet dit help met sy verlange na ‘n hondjie van sy eie.

BloekombosDit was hartseer om Saterdag te gesien het hoe goed wat op ‘n tyd vir my so baie beteken het, agteruitgaan. Ek is so bly ek hoef nie sinkplate by my huis op te slaan om in die mode te kan wees nie. My een niggie is in hierdie huis gebore, dit was loopafstand van ons eie plaas af, maar hulle het getrek toe ons nog klein was.

Mei 26, 2009

Die dorp Cornelia

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 9:56 vm

Cornelia was ons naaste dorp toe ons op die plaas gebly het, maar behalwe dat ek vir ‘n paar jaar daar in die skool was, het ons net daar deur gery.

Cornelia.Silo

Welkom in Cornelia

Ek was slegs een keer in Cornelia se NG-Kerk en dit was toe ek in Vrede in die skoolkoor gesing en ons een keer daar opgetree het. Om een of ander rede is daar altyd ‘n boom op die verkeerde plek…

Cornelia.NG Kerk

Ek was van graad 1 tot graad 5 in Cornelia in die skool en dit was my beste skooldae ooit. Ek het my eerste soen daar gekry, maar die outjie se ma was nie mal oor my nie en het tot die dag dat ons van die plaas af weg is, gesorg dat ons nie by mekaar uitkom nie. Hy is vandag nog single…

Cornelia.Skool nou munisipale kantore

Ek het selfs vrywilliglik aan sport deelgeneem toe ek nog in Cornelia in die skool was, maar na my ma my na ‘n ander skool gestuur het, het ek in niks meer belanggestel nie en moes in alles in gedwing word. Dalk is dit hoekom ek vandag so viervoetig vassteek as iemand my wil dwing om iets te doen waarvoor ek nie te vinde is nie.

Hier het ek netbal gespeel

My beste maatjie se pa was ‘n polisieman en ons het baie by die stasie gespeel. Daar is baie veranderings aangebring en is daar blykbaar ‘n redelike groot gevangenis ook gebou.

Cornelia.SAPD

Mei 25, 2009

Wat dink jy?

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 9:41 vm

Ek en my ouers het Saterdag vir die laaitie gaan wys waar ek grootgeword het en ek wou graag vandag daaroor geblog het, het lekker baie foto’s geneem. Daar is egter iets anders wat ek van my hart af moet kry en al het ek eintlik reeds ‘n besluit daaroor geneem, sal ek tog wil hoor wat ander mense daarvan dink.

Dis nou al sewe en ‘n half jaar dat ek en my laaitie weg is van my eks af. Daar is ‘n baie sterk band tussen my en die laaitie wat seker te verstane is, hy was op ‘n stadium al waarvoor ek geleef het en die wete dat hy my nodig gehad het, het dit in ‘n mate vir my makliker gemaak.

Dit voel egter nou vir my of dit tyd geword het om afstand tussen ons te kry. Ons is te veel van mekaar afhanklik en dit kan nie vir een van ons gesond wees nie. Wanneer ek vir ‘n oomblik iets anders doen as om aandag aan hom te gee, dan kla hy dat hy nie meer aandag kry nie. Ek probeer my bes om tyd saam met hom te spandeer, wanneer hy speel sal ek by hom sit of ek sal soms vir hom ‘n storie lees of ‘n video saam met hom kyk. Ek neem hom saam met my dorp toe en laat hom toe om te help kies wat ons moet koop.

Die eerste keer toe ek in ‘n verhouding betrokke geraak het, was hy amper twee jaar oud. Die man was baie ernstig, maar ek het net nie dieselfde oor hom gevoel nie. Wanneer hy langs my gaan sit het, sou die laaitie hom tussen ons inwurm en wanneer hy probeer het om my hand vas te hou, sou die laaitie sy hand wegvat.

Ek was nog nie weer in ‘n verhouding betrokke nie, al was daar ‘n hele paar vriendskappe, maar nie een was ernstig genoeg om in ‘n verhouding te ontwikkel nie. Ek voel uiteindelik gereed om ‘n man in my lewe te hê al kla ek hoe lank al oor die eensaamheid, maar mens het tyd nodig om jou kop weer reg te kry en ek weet dat ek dit nou eers reggekry het.

Ek het dus begin om my kind weg te stoot. Dit sou dalk beter gewees het as ek van die begin af bloot net ‘n ma was, maar ek dink net nie dit was moontlik nie. Daar was niemand anders nie en ek het moontlik te veel van hom verwag en nou dat ek nie meer alles met hom wil deel nie, voel hy uitgesluit.

Miskien probeer ek te hard om my optrede te regverdig. Ek is net bang dat, indien ek wel ‘n man sou ontmoet wat werklik wil lief wees vir my en my kind, my kind dit vir hom onmoontlik sal maak, want hy gaan heel waarskynlik wonder of die man my nie van hom of gaan wegvat nie. As ons egter reeds geleer het dat dit moontlik is om nie meer elke oomblik van die ander afhanklik te wees nie en dat ek ook tyd moet hê om met ander mense te spandeer of ander dinge te doen as om hom besig te hou, sal dit miskien vir hom makliker wees om nog iemand by ons toe te laat.

Of probeer ek bloot net my optrede regverdig omdat ek eintlik net ‘n bietjie tyd vir myself nodig het?

Mei 22, 2009

Internet dating

Filed under: Uncategorized — by Xanika @ 9:45 vm

Gisteraand het ek ‘n baie interessante gesprek op Facebook oor internet dating gehad. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie vir my bedoel is nie, ek is heeltemal te vol nonsens en tensy my ridder my voete onder my uitslaan, sal ek heel waarskynlik moet leer om met die alleenheid saam te leef.

Ek is besig om ‘n nuwe storie te skryf, maar ek twyfel of enigiemand dit sal lees. My laaitie dink ek’s sommer laf, ek het al 40 bladsye geskryf aan ‘n storie wat hy nie kan lees nie!

Na 22:00 het ek in die bed gaan klim, maar my gedagtes was te besig en ek kon nie aan die slaap raak nie. Ek lê toe maar en dink aan iets om oor te blog, maar al waaraan ek kan dink is mans. Vroeër gisteraand het ek ‘n uitval met ‘n ou gehad wat ek op ‘n dating site “ontmoet” het. Ons het lekker gesels vir ‘n hele paar dae, maar ek was bietjie bekommerd oor ek gevoel het hy is nie die regte lengte nie.

As dit kom by internet dating, het ek ‘n hele paar reëls. Ek reageer net wanneer ek van ‘n man hoor, ek maak nie die eerste skuif nie en as jy nie reageer op my boodskap nie, dan gaan jy nie weer van my hoor nie. Woensdag het ons ‘n paar e-posse uitgeruil en na ek die laaste een vir hom gestuur het, het ek nie weer van hom gehoor nie. Gister deur die loop van die dag het ek ook nie van hom gehoor nie en het maar aanvaar hy het belangstelling verloor.

Maar gisteraand kry ek ‘n sms “okay ek kry die boodskap”. Ek was heel uit die veld geslaan en stuur toe een terug waarin ek sê “verskoon my, maar ek kon net sowel dieselfde gesê het”. Hy stuur toe een terug waarin hy sê hy was heeldag besig en het nie eens in sy kantoor gekom nie en hy sien hy is te kort vir my en sterkte, hy hoop ek kry my lang man. Ek het toe maar net ‘n sms teruggestuur en gesê sterkte vir hom ook.

En so het nog ‘n internet verhouding tot ‘n einde gekom. Wat miskien maar beter is, hy sou net al hoe korter geword het elke keer as ons oor iets verskil…

My tweede reël is dat ek nie mans ontmoet voor ek met hulle oor die foon gepraat het nie. Ek het al ‘n vriendskap beëindig net oor ek nie van ‘n ou se stem gehou het nie!

Die derde reël is dat die man eers vir my moet kom kuier voor ek dit enigsins sal oorweeg om vir hom te gaan kuier. Dis die probleem met die plek waar ek bly, hier is niks potensiaal nie en moet daar kuiers oor en weer gereël word. Dit het tot gevolg gehad dat ek al vir ‘n man by Tosca gaan kuier het, net om uit te vind hy is nie van plan om te trou nie!

En dis alles maar net my eie skuld. As ek met S getrou het, kon ons dalk nou nog gelukkig saam gewees het. Maar my ouers het nie van hom gehou nie en ek het ons verlowing beëindig, met my eks getrou en geglo dis vir ewig.

As is verbrande hout…

Miskien as ek nie so skaam en teruggetrokke op skool was en bang was om my mond oop te maak as ‘n ou naby my gekom het nie, kon ek en F getrou het. Hy was my heel eerste “I lover”. Toe ek in st. 6 was, was hy in st. 9 en hy het vir die eerste rugbyspan uitgedraf in die no. 7 trui. As straf oor ek verjaar het terwyl ons ontgroen was, moes ek vir myself “Geluk liewe maatjie” sing tydens ‘n atletiekoefening een dag. Een van my kleinniggies was in matriek toe ek in st. 6 was en het geweet ek verjaar en sy was die een wat my dit laat doen het. Ons was op die pawiljoen en hy was ook daar. Ek het gewens die aarde wil my insluk, hy en sy vriende het lekker vir my sit en lag en ek het soos ‘n regte sot gevoel!

Met sy laaste dag het ek al my moed bymekaar geskraap en hom sowaar gevra of ek ‘n foto van hom kan neem. Ek sien hom nog van tyd tot tyd, sy ouers bly ook hier op die dorp. Ek weet nie hoekom ek so mal oor hom was nie, hy is glad nie meer so aantreklik nie en lyk meer of hy iewers uit ‘n oerwoud ontsnap het.

Na F het ek my hart op C verloor. Maar hy het net oë vir my vriendin gehad. Na hy uit die skool is, het ek hom nie weer gesien nie, maar ek het geweet hy het ‘n polisieman geword en getrou en pa geword en hy is in Natal.

So ruk terug het ek hom op Facebook ontdek. Ek het ‘n vriendskapsversoek aan hom gerig en hy het dit aanvaar. Ons het begin gesels en ek het uitgevind hy is weer single…

Na my mislukte huwelik het ek eendag vir my pa gesê ek het geweet dit gaan nie werk nie. My eks kon my nie van S laat vergeet nie en hy was altyd tussen ons, het hom selfs ‘n keer na my troue weer gesien en besef ek moes hom nooit laat gaan het nie, al vertel ek vandag nog vir almal dit was beter so.

Gisteraand het ek besef dat ek nog nie een keer aan S gedink het vandat ek en C begin gesels het nie. In ‘n maand se tyd sonder dat ek C gesien of eens telefonies met hom gepraat het, het hy my gedagtes so in beslaggeneem dat ek van S kon vergeet en dat ek nou met alle eerlikheid kan sê ek is oor S. Hy was die eerste man wat vir my lief was en eintlik maar my eerste liefde, want “I lovers” tel tog seker nie!

Ek was dom genoeg om C te vertel hoe ek oor hom gevoel het, dat ek steeds dink ek voel dieselfde, maar al wat hy daarop te sê het is dat hy daarvan hou om mense te laat wonder. Dit was hy wat die dating site waaraan ek op die oomblik behoort voorgestel het, maar ek dink al meer dit gaan nie my uitweg wees nie. Ek bly op ‘n klein plattelandse dorpie en oorweeg dit  nie op hierdie stadium om te trek net om moontlik ‘n man raak te loop nie, maar ek raak al banger om vreemde mans op die net te ontmoet.

Die gevolgtrekking waartoe ek gisteraand gekom het, is dat ek maar net geduldig vir my ridder sal moet wag. Dis in elk geval wat almal vir my sê. Vanoggend op Facebook lees ek raak dat my een vriendin wat ook alleen is “wish for… someone out there beneath the pale moonlight…” twee ure na ek gevra het waar is my ridder waarop iemand haar geantwoord het “Elke enkel dame het ‘n ridder wat besig is om sy pad na haar hart oop te veg”. Ek hoop regtig hy is reg!

En as C hierdie lees, is dit die laaste keer dat ek geblog het…

Want as die aarde my nie insluk nie, sal ek maar in ‘n boom klim en die aarde verlaat!

Volgende Blad »

Aangedryf deur WordPress.com