Gisteraand het ek ‘n baie interessante gesprek op Facebook oor internet dating gehad. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie vir my bedoel is nie, ek is heeltemal te vol nonsens en tensy my ridder my voete onder my uitslaan, sal ek heel waarskynlik moet leer om met die alleenheid saam te leef.
Ek is besig om ‘n nuwe storie te skryf, maar ek twyfel of enigiemand dit sal lees. My laaitie dink ek’s sommer laf, ek het al 40 bladsye geskryf aan ‘n storie wat hy nie kan lees nie!
Na 22:00 het ek in die bed gaan klim, maar my gedagtes was te besig en ek kon nie aan die slaap raak nie. Ek lê toe maar en dink aan iets om oor te blog, maar al waaraan ek kan dink is mans. Vroeër gisteraand het ek ‘n uitval met ‘n ou gehad wat ek op ‘n dating site “ontmoet” het. Ons het lekker gesels vir ‘n hele paar dae, maar ek was bietjie bekommerd oor ek gevoel het hy is nie die regte lengte nie.
As dit kom by internet dating, het ek ‘n hele paar reëls. Ek reageer net wanneer ek van ‘n man hoor, ek maak nie die eerste skuif nie en as jy nie reageer op my boodskap nie, dan gaan jy nie weer van my hoor nie. Woensdag het ons ‘n paar e-posse uitgeruil en na ek die laaste een vir hom gestuur het, het ek nie weer van hom gehoor nie. Gister deur die loop van die dag het ek ook nie van hom gehoor nie en het maar aanvaar hy het belangstelling verloor.
Maar gisteraand kry ek ‘n sms “okay ek kry die boodskap”. Ek was heel uit die veld geslaan en stuur toe een terug waarin ek sê “verskoon my, maar ek kon net sowel dieselfde gesê het”. Hy stuur toe een terug waarin hy sê hy was heeldag besig en het nie eens in sy kantoor gekom nie en hy sien hy is te kort vir my en sterkte, hy hoop ek kry my lang man. Ek het toe maar net ‘n sms teruggestuur en gesê sterkte vir hom ook.
En so het nog ‘n internet verhouding tot ‘n einde gekom. Wat miskien maar beter is, hy sou net al hoe korter geword het elke keer as ons oor iets verskil…
My tweede reël is dat ek nie mans ontmoet voor ek met hulle oor die foon gepraat het nie. Ek het al ‘n vriendskap beëindig net oor ek nie van ‘n ou se stem gehou het nie!
Die derde reël is dat die man eers vir my moet kom kuier voor ek dit enigsins sal oorweeg om vir hom te gaan kuier. Dis die probleem met die plek waar ek bly, hier is niks potensiaal nie en moet daar kuiers oor en weer gereël word. Dit het tot gevolg gehad dat ek al vir ‘n man by Tosca gaan kuier het, net om uit te vind hy is nie van plan om te trou nie!
En dis alles maar net my eie skuld. As ek met S getrou het, kon ons dalk nou nog gelukkig saam gewees het. Maar my ouers het nie van hom gehou nie en ek het ons verlowing beëindig, met my eks getrou en geglo dis vir ewig.
As is verbrande hout…
Miskien as ek nie so skaam en teruggetrokke op skool was en bang was om my mond oop te maak as ‘n ou naby my gekom het nie, kon ek en F getrou het. Hy was my heel eerste “I lover”. Toe ek in st. 6 was, was hy in st. 9 en hy het vir die eerste rugbyspan uitgedraf in die no. 7 trui. As straf oor ek verjaar het terwyl ons ontgroen was, moes ek vir myself “Geluk liewe maatjie” sing tydens ‘n atletiekoefening een dag. Een van my kleinniggies was in matriek toe ek in st. 6 was en het geweet ek verjaar en sy was die een wat my dit laat doen het. Ons was op die pawiljoen en hy was ook daar. Ek het gewens die aarde wil my insluk, hy en sy vriende het lekker vir my sit en lag en ek het soos ‘n regte sot gevoel!
Met sy laaste dag het ek al my moed bymekaar geskraap en hom sowaar gevra of ek ‘n foto van hom kan neem. Ek sien hom nog van tyd tot tyd, sy ouers bly ook hier op die dorp. Ek weet nie hoekom ek so mal oor hom was nie, hy is glad nie meer so aantreklik nie en lyk meer of hy iewers uit ‘n oerwoud ontsnap het.
Na F het ek my hart op C verloor. Maar hy het net oë vir my vriendin gehad. Na hy uit die skool is, het ek hom nie weer gesien nie, maar ek het geweet hy het ‘n polisieman geword en getrou en pa geword en hy is in Natal.
So ruk terug het ek hom op Facebook ontdek. Ek het ‘n vriendskapsversoek aan hom gerig en hy het dit aanvaar. Ons het begin gesels en ek het uitgevind hy is weer single…
Na my mislukte huwelik het ek eendag vir my pa gesê ek het geweet dit gaan nie werk nie. My eks kon my nie van S laat vergeet nie en hy was altyd tussen ons, het hom selfs ‘n keer na my troue weer gesien en besef ek moes hom nooit laat gaan het nie, al vertel ek vandag nog vir almal dit was beter so.
Gisteraand het ek besef dat ek nog nie een keer aan S gedink het vandat ek en C begin gesels het nie. In ‘n maand se tyd sonder dat ek C gesien of eens telefonies met hom gepraat het, het hy my gedagtes so in beslaggeneem dat ek van S kon vergeet en dat ek nou met alle eerlikheid kan sê ek is oor S. Hy was die eerste man wat vir my lief was en eintlik maar my eerste liefde, want “I lovers” tel tog seker nie!
Ek was dom genoeg om C te vertel hoe ek oor hom gevoel het, dat ek steeds dink ek voel dieselfde, maar al wat hy daarop te sê het is dat hy daarvan hou om mense te laat wonder. Dit was hy wat die dating site waaraan ek op die oomblik behoort voorgestel het, maar ek dink al meer dit gaan nie my uitweg wees nie. Ek bly op ‘n klein plattelandse dorpie en oorweeg dit nie op hierdie stadium om te trek net om moontlik ‘n man raak te loop nie, maar ek raak al banger om vreemde mans op die net te ontmoet.
Die gevolgtrekking waartoe ek gisteraand gekom het, is dat ek maar net geduldig vir my ridder sal moet wag. Dis in elk geval wat almal vir my sê. Vanoggend op Facebook lees ek raak dat my een vriendin wat ook alleen is “wish for… someone out there beneath the pale moonlight…” twee ure na ek gevra het waar is my ridder waarop iemand haar geantwoord het “Elke enkel dame het ‘n ridder wat besig is om sy pad na haar hart oop te veg”. Ek hoop regtig hy is reg!
En as C hierdie lees, is dit die laaste keer dat ek geblog het…
Want as die aarde my nie insluk nie, sal ek maar in ‘n boom klim en die aarde verlaat!