Ek het al meer as een keer gedreig om Facebook te los. Daar is egter mense met wie ek op geen ander manier kontak kan hê as deur Facebook nie en het ek begin om meeste van die “applications” te vermy in ‘n poging om minder tyd daar te spandeer.
Die statusopdaterings is sekerlik iets wat ek die meeste geniet. Baie keer is dit sommer net nonsens, maar soms kry jy ‘n kykie in mense se lewens en kan jy sien wat hulle doen of waarmee hulle hulself besig hou. My eie statusopdaterings het al verskeie kere reaksie uitgelok en het ek begin om dit eintlik daarvoor te gebruik: om te sien wat se reaksie ek kan kry en kon ‘n paar vrae ook al daar vir my beantwoord word.
Maandag het ek oor iets gewonder en het ek dit genoem. Ek het bloot net gewonder, maar was dit heeltemal uit verband uit geruk en het dit selfs tot gevolg gehad dat die dominee my kom sien het. Ek kan onomwonde verklaar dat my siening geensins verander het nie.
Dit het seergemaak om te sien wat mense wat my vraag uit verband geruk het oor my te sê gehad, maar ek het hulle om verskoning gevra as ek hulle dalk te na gekom het en ek het my Vader gevra om hulle te vergewe en het ek ook aan hulle vergifnis gegee en sal ek probeer om nie weer daaraan te dink nie.
Maar dis nie altyd maklik nie, ons is menslik en struikel so maklik.
Iemand het hom egter toe ook uitgespreek oor Facebook en het ek selfs so ver gegaan as om my rekening te deaktiveer. Net om te besef hoe dom dit sal wees en het ek gewonder van wanneer af steur ek my dan nou weer aan wat mense sê. Ek het dus weer my rekening geaktiveer, maar het ek die snoeisker ingelê en het ek nou slegs 85 vriende op Facebook waar ek op ‘n stadium amper 300 gehad het.
My privaatheidinstellings is ook nou baie strenger en sal dit vir iemand wat nie my vriend op Facebook is nie, lyk of ek nie meer daar is nie. En dis hoe ek dit verkies. Van nou af sal ek baie meer “strict” wees oor wie ek naby my toelaat.
En vir almal wat nou wonder waaroor ek gewonder het: die hele ding gaan eintlik maar net oor die doop. Dit het nou tot gevolg gehad dat ek soveel as moontlik daaroor wil weet en lees en oral soek, al weet ek wat ek daaroor glo.
Nou wat nou….. ek hoop ek is darm nog een van die vriende… ek het nie daai op facebook raakgeloop nie… ek weet nie eers waaroor dit gaan nie…
Comment deur Renchia Naude — Julie 10, 2009 @ 10:12 vm |
Beslis is jy nog een van my vriende! Het jou mail gestuur…
Comment deur Xanika — Julie 10, 2009 @ 10:45 vm |
En ekke? Was lanklaas op FB maar ek hoop nie ek is afgehaal nie! Ek raak nie baie betrokke by FB nie, is net my manier om te sien wat vriende/familie wat ek nie baie sien nie, doen. Ek het maar bittermin “Friends” daarop en verkies dit so…
Comment deur Amanda — Julie 10, 2009 @ 12:20 nm |
Ek het byna almal uitgewis, maar vra nou weer vriende. Ek hoop nie jy was een nie, maar as jy was, sal ek jou beslis weer vra!
Comment deur Xanika — Julie 10, 2009 @ 1:01 nm |