In foto’s – en volgorde!
Argiewe
All posts for the month Junie, 2010
Ons troue…
Published Junie 23, 2010 by XanikaDie 12de Junie 2010 was die wonderlikste dag van my lewe! Ek het die beste man ooit gekry…
Ek het die Vrydagaand vir oulaas by my ouers geslaap en Saterdagoggend het my broer se verloofde my na die haarkapster geneem en vir my grimering. Dis nou na ek met ‘n skok besef het ek het nooit my laaitie se hare laat sny nie en hom gou gevat het!
Ek het daarna sommer by my ouers se huis aangetrek en die troukar het my so 10:40 gaan oplaai. Leon het eers ‘n paar draaie deur die dorp gery en na ons nog ‘n paar foto’s by die kerk geneem het, het ek en my laaitie presies 11:00 in die kerk ingestap terwyl “Liefling” van Steve Hofmeyr en Patrizio gespeel het.
Die pastoor wat ons getrou het, het die beeld van ‘n tou gebruik in sy boodskap om ons te herinner dat ons as man en vrou met God verweef moet wees en sal ek nooit weer dieselfde na ‘n tou kyk nie. Na die boodskap het ons geloftes afgelê, ringe uitgeruil en die register geteken terwyl die mense uitgestap het met “In ewigheid” van Steve in die agtergrond.
Die mense het buite die kerk vir ons gewag en ons met roosblare gegooi en wonder ek tog waarom ek nie met my eerste troue confetti wou gehad het nie. As ek nou terugdink daaraan, wonder ek hoekom ek nie besef het ek maak ‘n fout nie!
Daarna was daar koek en tee in die kerksaal ter wille van almal wat die diens bygewoon het en nie na die “onthaal” genooi was nie. Dit was nie ‘n onthaal in die ware sin van die woord nie, ons het ‘n skaap op die spit laat braai en mense uitgenooi om dit met ons te deel wanneer hulle bevestig het dat hulle wel die troue sal bywoon.
Die braai was op ‘n gasteplaas net buite die dorp en ek dink almal het dit baie geniet. Die kos was heerlik en my ma het na die tyd opgemerk dat dit ‘n troue was om te onthou!
This slideshow requires JavaScript.
Soms…
Published Junie 10, 2010 by XanikaSoms maak die mense wat veronderstel is om jou die liefste te hê, jou die seerste.
Soms gedra mense wat voorgee om Christene te wees, hul soos heidene.
Soms kan jy net glad nie verstaan nie…
Wolke met silwer rante
Published Junie 10, 2010 by XanikaIs so wonderlik hoe dinge sommer net kan verander. Nie dat ek dink enigiets gebeur sommer net nie, maar ja! Ek kan tog so maklik negatief raak, maar nou is die lewe wonderlik. Terwyl ek skaars ‘n jaar terug nie eintlik meer enige lus oorgehad het vir die lewe nie…
Ons ete saam met die baas en sy vrou was toe baie lekker. Is ook die laaste keer wat ek regtig geëet het, my eetlus is met vakansie! En my liefie baklei baie daaroor…
Ek hou van wat my haarkapster met my hare gedoen het. Eers het dit bietjie vreemd gelyk – dit is so nie ek nie! Maar nou hou ek daarvan en sal self ook darem iets met dit kan uitrig – hoop ek!
En almal wat my gesien het, was mal oor my grimering. Magdalene weet wat sy doen en ek was verbaas om te sien hoe mooi ek kan lyk… Seker tyd dat ek my slegtigheid los en grimering aansit…
Enigste een wat nie baie ingenome met my was nie, is die laaitie. Vertel my hare lyk net so sleg soos my gesig en wou weet wie my geslaan het…
Hoop jy het ‘n wonderlike week verder en ‘n heerlike naweek. Sal so gou moontlik na die troue weer probeer blog en kom foto’s opsit, maar wanneer dit sal wees, weet ek nie!
Ons troue is om die draai!
Published Junie 8, 2010 by XanikaEk kan byna nie glo daar is nog net vier slapies oor voor ons groot dag nie. Gister was ek bietjie gespanne, maar vandag voel alles weer reg. Ons tel lankal die slapies en kan nou nie meer wag nie…
Gister was ek en my aanstaande vir die laaste keer by die pastoor en is meeste van die goed nou gereël en bevestig. Ek het verlede week vir my naels gegaan en dit lyk baie mooi, moet weer Vrydag gaan. En vanmiddag gaan ek my hare laat sny en die vrou sien wat my gaan grimeer.
O ja, en die baas en sy vrou vat my en my aanstaande uit vir ete vanmiddag aangesien hulle nie Saterdag hier kan wees met die troue nie.
My aanstaande het vir ons ‘n troukar gekry – is een of ander ou kar, maar dis baie mooi – moet my net nie vra wat se kar dit is nie! Ek het darem gister lint gekry, hier is nie veel winkels wat dit verkoop nie en by die een weier ek om te koop…
Ons het vir my laaitie nuwe klere gekoop, maar die hemp was heeltemal te klein! My liefie kon darem kry wat hy gesoek het, ons wou net opgee. En my klere het ek present gekry, moes dit net laat droogskoonmaak!
My laaitie gaan saam met my by die kerk instap aangesien my pa nie eintlik meer kan loop nie en dit in elk geval ‘n tweede troue is. En nee, ek gaan nie instap op die troumars nie…
Ek het self vir ons ‘n ringkussinkie gemaak en my aanstaande is mal daaroor. Ons het besluit om nie nou vir my ‘n ring te koop nie, gaan my verloofring gebruik en ek het vir hom ‘n ring gekoop waarvan ons altwee hou en my laaitie gaan die ringe inbring.
My beste vriendin en my liefie se een vriend gaan as getuies teken en ons gaan roosblare gebruik vir confetti. So interressant hoe mens se idees kan verander oor alles…
En na die huweliksbevestiging gaan ons lekker kuier met tee en koek. Of so hoop ek, ek het my ma gevra om dit te reël en kan maar net hoop vir die beste.
Saambly – reg of verkeerd?
Published Junie 1, 2010 by XanikaEk het my hele storie agtermekaar gehad, maar eers bietjie gaan rondsnuffel op die internet en op die volgende afgekom:
Nie alle saamblyverhoudings is dieselfde
Bybelse Waarskuwing Aan Die Liberale Denkers!
Sociological Reasons Not to Live Together
Maar ten spyte daarvan, het ek steeds my eie siening…
Ek en my liefie bly nie saam nie. Tot redelik onlangs was ek totaal en al daarteen gekant. Maar tot mens in ‘n situasie is, kan jy jou nie werklik daaroor uitspreek nie. Ons is so gou om klippe te gooi en tot gevolgtrekkings te spring sonder om werklik voor- en nadele teen mekaar op te weeg of die situasie te analiseer.
My liefie bly wel naweke by my in die woonstel. En gistermiddag het ek besluit dat dit dalk nie so ‘n slegte idee was nie. Ek en my laaitie het vir agt jaar en vier maande by my ouers gebly. Ek het ‘n hele paar vriende gehad, maar dit was nooit baie ernstig nie – en as dit was, net vir ‘n dag of so!
My laaitie het dus geen idee wat om werklik te verwag van die hele trou storie nie. Na ek en hy in die woonstel ingetrek het, het dit net so gebeur dat my liefie naweke by ons kom “kuier” het.
Ek moet nou net dalk byvoeg dat dit hoofsaaklik die rede is waarom ons die troudatum vervroeg het van November na Junie – ek het een Sondagmiddag staan en skottelgoed was terwyl hy bietjie gerus het en net besef ek kan nie nog solank wag nie, die gedagte dat hy daardie aand weer moes teruggaan huis toe en dan bly ek en die laaitie alleen agter, was net te veel!
Ons bly dus seker nie heeltemal saam nie, maar ons doen tog. Ons het van die begin af geweet ons gaan trou – en trou nou oor net 11 slapies – en kan dit seker daarmee regverdig. Maar ek dink nie dit is heeltemal waaroor dit gaan nie. Vir my kind se onthalwe, sou ek nooit saam met ‘n man intrek nie, maar tog voel ek nou dat ter wille van die laaitie dit beter is soos ons dit doen, want in ‘n mate berei dit hom voor op wat om te verwag.
Dit sou tog sekerlik vir hom ‘n groter aanpassing wees as my liefie net die 12de Junie by ons intrek en ewe skielik verander alles?
“Ons” haal so maklik die Bybel aan en sê sodra jy twyfel oor iets is dit nie reg nie of dat die Bybel baie duidelik is en so aan. Maar daar staan in die Bybel indien jy oor iets twyfel en dit tog doen, dan is dit sonde. Indien jy dus twyfel of jy mag vleis eet (die Bybel sê tog duidelik jy mag!) en jy eet dit wel, sondig jy.
Dit terwyl die Bybel sê jy mag vleis eet! Wat probeer ek dus sê? Dat elkeen van ons vir onsself sal moet verantwoording doen. En dat nie een van ons kan sê iets is reg of verkeerd nie, dit gaan oor soveel meer…















































