Argiewe

All posts for the month Maart, 2011

Die Twins – Maart 2011

Published Maart 29, 2011 by Xanika

Ons was gister weer by die dokter, die twins groei baie mooi en is steeds basies presies ewe groot. Een lyk beslis soos ‘n seuntjie, maar die ander een kon ons nie sien nie. Ons hou maar steeds duim vas dat dit ‘n seuntjie en dogtertjie is!

My boepie vorder ook goed, is al 20 cm breër as verlede jaar met die troue! Maar ek sien vrouens wat swanger is met ‘n tweeling, word aanbeveel om 11 kg gewig op te tel teen 24 weke, wat beteken ek sal maar nog meer moet eet as wat ek reeds eet, want sover het ek nog nie veel opgetel nie.

Ons was so gelukkig om twee karstoeltjies present te kry by ‘n ander mamma met ‘n tweeling en het ek besluit om nuwe oortreksels te maak. Ek wou eintlik koop, maar kon nie kry nie, en om dit te maak, kos my niks! Baie dankie Cynthia, ons waardeer dit so baie.

Ons het ook ‘n pram redelik goedkoop gekry by ‘n winkel in Vanderbijlpark waarvoor ek vir Mario sê baie dankie.

Die res van die babakamer kom ook mooi aan, ons het ‘n babakas en kot gekoop, ek het nog my kot en die babakas wat ek gebruik het toe die laaitie ‘n baba was, sy matras makeer nog niks en ek het een gekoop vir die ander kot. Nou soek ek nog net oortreksels vir die matrasse en ons wil graag die kamer verf.

Ons glo en vertrou die res sal ook in plek val, God het reeds so wonderlik voorsien en al is dit moeilik, weet ek ons moet net aanhou om aan Hom vas te hou.

Hoe nou gemaak?

Published Maart 24, 2011 by Xanika

Ek wens ek het ‘n fairy godmother gehad. Of ‘n ryk oom of oupa of iemand. Ek is nie spyt dat ek swanger is met twins nie, maar alles is nou so deurmekaar…

Ek dink in Suid-Afrika is dit heeltemal te maklik om skuld te maak en as mens nie selfdissipline het wat dit aanbetref nie, dan sit jy met die penarie waarmee ek nou sit. Ek het op ‘n stadium drie kredietkaarte gehad! Het op ‘n stadium een gesluit en nie lank daarna nie nog een, maar weens een of ander probleem by die bank, het hulle dit nie gesluit nie. Met die gevolg dat ek twee kredietkaarte het wat ek op hierdie stadium nie een kan afbetaal nie.

Ek het ook ‘n Edgars rekening en ‘n Foschini rekening. Edgars sal ek darem klaar betaal voor ek ophou werk en Foschini betaal my man. Maar dan is daar ook nog die apteekrekening en die doktersrekening en die selfoonkontrakte…

Maar dit is nie al nie. Ek het verlede jaar ‘n persoonlike lening gemaak om die trouskuld te kon klaarbetaal, maar hoe op aarde gaan ek dit betaal as ek ophou werk?

En dis nie asof dit al my uitgawes is nie. Daar is nog ‘n begrafnispolis en motorversekering en ‘n lewenspolis en my laaitie se studiepolis en die bankkoste…

Maak nie saak wat ek probeer nie, ek kan net nie aan ‘n oplossing dink nie. Maar dalk lees my lang verlore ryk oom met sy een voet in die graf en die ander op ‘n piesangskil hierdie en dan is al my probleme op ‘n einde…

Die babakamer

Published Maart 15, 2011 by Xanika

Ek het gister die babakamer reggeskuif, nou moet dit nog net geverf word en ons moet kyk vir ‘n mat. Daar is darem nou al vir elkeen ‘n kot en babakas en kort die een kot nog net ‘n matras. Ek het darem nog so bietjie van die laaitie se beddegoed oor, maar sal heelwat nog moet kry.

Wat die groot goed aanbetref, het ons dan nou darem meeste van wat ons moet hê behalwe vir karstoeltjies. Ek het een by ‘n vriendin gekry en gaan nog een present kry by ‘n ou skoolvriendin, maar sy bly in Australië en ek moet nou eers wag tot haar ouers vir haar gaan kuier volgende maand.

Dit maak dit bietjie moeilik, want ek weet nie wat se stoeltjie dit is nie! En ek wil graag vir altwee min of meer dieselfde stoeltjies hê – in elk geval dieselfde maak, maar verskillende kleure of so iets.

Ons het die naweek besluit dat, indien dit nie ‘n seuntjie en dogtertjie is nie, maar twee van dieselfde geslag, ons as ‘n reël hulle nie dieselfde gaan aantrek nie. Dit geld dus ook vir die res van hulle goed!

Ek wil graag van die karstoeltjies hê wat jy gebruik van geboorte tot wanneer hulle dit nie meer nodig het nie, maar wil ook nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie!

Ergste is om te dink ek gaan nog net drie salaristjeks kry voor ek ophou werk – op die meeste! En daar is soveel wat ek nog graag sou wou koop…

Normaal vs C-section

Published Maart 8, 2011 by Xanika

In Suid-Afrika word blykbaar algemeen aanvaar om met behulp van ‘n keisersneë te kraam, normaal is en om normaal te kraam is, wel, abnormaal. 

My begeerte is om normaal te kan kraam en seker 9 uit 10 mense vir wie ek dit vertel, dink daar is fout met my.

Ek hou daarvan om ingelig te wees en volgens wat ek lees, lyk dit nie vir my of ek die een is wat verkeerd is nie – lees hier, hier en hier.

Ek hou dus daarby dat niemand my sal kan oortuig om ‘n keisersneë te kry om hierdie tweeling in die wêreld in te bring tensy daar werklik mediese bewys daarvoor is nie.

Staatshospitaal vs Privaat kliniek

Published Maart 3, 2011 by Xanika

Gistermiddag was my man baie kwaad vir my… Aanvanklik was ek van mening dat ek maar na ons dorp se staatshospitaal kan gaan vir die bevalling, maar dit was voordat ons uitgevind het ek verwag ‘n tweeling. Dit het baie dinge verander en ook ons besluite oor ‘n dokter en so aan.

Ek het aan die begin van my swangerskap na die kliniek gegaan, maar aangesien meeste vrouens eers soontoe gaan aan die einde van hul swangerskappe, het hulle nie eintlik geweet wat om met my te doen nie en gesê ek hoef eers weer einde April soontoe te gaan. Dis hoe dit gekom het dat ons einde Januarie na ‘n privaat dokter gegaan en uitgevind het dit is ‘n tweeling.

Einde verlede maand was ons weer by haar en het ons met haar gepraat oor die hospitaal en wat ons te doen staan aangesien ek nie op ‘n mediese fonds is nie. Sy sou toe vir my uitvind of ‘n privaat dokter by die staatshospitaal ‘n bevalling kan hanteer en is die antwoord toe ja, maar dan betaal jy privaat fooie net soos in ‘n privaathospitaal.

Ons het toe gistermiddag ‘n draai by die privaat hospitaal gaan maak om uit te vind wat dit min of meer gaan kos en ‘n reuse skok gekry… Ek het geen idee waar die geld vandaan sal kom nie, ons het dit nie nou nie en ek is ook nie bewus van enige manier hoe ons dit bymekaar kan kry nie, maar my man staan vas daarby dat ek nie na die staatshospitaal toe gaan nie.

Dit het toe tot gevolg gehad dat ek byna my oë uitgehuil het en my man baie kwaad was oor ek hom nie kon antwoord oor wat fout is toe hy my gevra het nie…

Ek kan hom seker nie kwalik neem nie, mens hoor van soveel goed wat by staatshospitale gebeur en dit is nou weer baie in die nuus van al die babas wat dit nie oorleef nie as gevolg van swak higiëne, ens. En ek weet hy gee om en is besorg oor my en dit twins, maar waar kry mens soveel geld as jy dit nie het nie?

Om swanger te wees met ‘n tweeling

Published Maart 1, 2011 by Xanika

Ek het swanger geraak binne vyf maande nadat ek die pil gelos en ons besluit het om ons gesin uit te brei. Aan die een kant was ek nogal verbaas dat my man so gou wou probeer, maar aan die ander kant wat ek baie bly – ek word nie jonger nie! My ovulasiedatum was min of meer 10 Desember en op 20 Desember het ek ‘n swangerskapstoets gedoen en was dit positief.

Dit is een ding wat ek kan sien verbeter het met die jare! Met my laaitie was ek al ‘n hele ruk swanger voordat ons dit uitgevind het en nou kan jy al ‘n toets doen vier dae voor jou verwagte menstruasiedatum.

My man het op daardie stadium in die oggend gewerk en ek was met verlof. Ek het hom gebel om te hoor of hy gaan huistoe kom vir ete (hy het slegs ‘n halfuur ete en kom nie altyd huistoe vir ete nie). Hy was nie van plan om huistoe te kom nie, maar kon ek hom gelukkig oorreed om wel te kom en die goeie nuus met hom te deel.

Terug by die werk het hy sy skoonsus vertel en sy het my gebel en terwyl sy met my gepraat het en ek haar gevra het om nog nie vir almal te vertel nie, het iemand gehoor dat sy met my praat en almal vertel… Ek sou eintlik so graag die nuus vir eers net vir my en my man wou hou, maar nou ja.

Ons het die 31ste Januarie vir die eerste sonar gegaan en uitgevind ek verwag ‘n tweeling. Ek het geweet dat daar so ‘n moontlikheid was (my ma is eenvan ‘n tweeling en het ‘n tweeling verloor en ek was die 19de Januarie al 35), maar toe ek die twee vrugsakkies sien, het ek dadelik besef dat ek nie gedink het dit is moontlik nie! Mens se hele wêreld draai net daar op sy kop.

Ek was die res van daardie middag so te sê histeries en vir die volgende sowat twee weke in ‘n toestand van skok. Dit was darem net tot ek en my ma Pep toe gegaan het en ek ‘n paar stukkies klere gekoop het – dit het gehelp om die skok in opgewondenheid te verander en voel ek van toe af darem meer positief daaroor. God sou sekerlik nie so iets oor ons pad laat kom het as ons dit nie kan hanteer nie – en as Hy nie ook verder vir ons en in ons behoeftes sal voorsien nie.

Die ergste is dat ek byna niks meer babagoed het nie. Ek het so drie jaar terug besluit dat ek nie weer gaan trou nie en dus ook nie nog kinders sou hê nie en byna al die babagoed wat ek nog gehad het, van ontslae geraak! Ek het darem nog die laaitie se kot en meeste van die beddegoed, maar verder nie veel wat ek sal kan gebruik nie! Gelukkig kan ek weer die babakas by my oom leen wat ek met die laaitie gebruik het en het ons ‘n kot en babakas gekry vir R500.00 wat ons vanmiddag gaan haal, maar ons sal moet nuwe matrasse kry en ek hoop om iewers ‘n camping cot te kry sodat hulle aan die begin saam by ons in die kamer kan slaap.

Verder was ons ook gelukkig genoeg om ‘n dubbelpram vir R1,000.00 te kry wat nog so te sê splinternuut is, dit was ‘n vloermodel in ‘n babawinkel. Eers het ons gedink om twee prams te kry omdat ek nie sommer alleen met hulle sal uitgaan nie, maar ek het nooit gedink aan alleen by die huis nie!

Ek was Sondag 13 weke swanger en is die “gevaar tydperk” darem nou verby. Ek sukkel met naarheid en moegheid en ek sukkel om te slaap, maar ek gelukkig geen ander klagtes nie. Behalwe dat ek nie meer veel klere het wat pas nie! Vrydagaand was my middel 86 cm en vanoggend 89 cm en toe ons gister by die dokter was, het sy gesê my uterus is reeds so ver soos ‘n vrou wat met een swanger is op 16 weke.

Ons kon die babas mooi sien op die sonar en baba een is verskriklik besig. Ons het ook gesien dat altwee duimsuig. Dit was net te wonderlik om hulle te kan sien. Ons sal net ongelukkig moet wag tot na 20 weke om te kan sien wat hulle is, want al is die geslag al duidelik herkenbaar op 13 weke, is ons dokter se sonar te oud om dit nou al te kan wys en sê sy jy kan eers sien na 20 weke. Ek glo egter dit is ‘n seuntjie en dogtertjie, maar wat dit ook al is, is die belangrikste maar net dat hulle normaal en gesond is.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 28 other followers