Argiewe

All posts for the month April, 2011

Werk vs Twins

Published April 23, 2011 by Xanika

Baie mense wou al weet hoekom ek dan nie maar van die huis af gaan werk wanneer ek by die kantoor ophou nie. So asof ek nie self daaraan dink nie…

As ek daaraan dink dat ek einde Mei gaan ophou werk, wil ek weghardloop! Die gedagte daaraan dat ek sonder ‘n inkomste gaan wees en in die geloof sal moet leef, maak my angsbevange.

Maar dit help nie om uit desperaatheid te wil optree nie en moet mens al die voor- en nadele teen mekaar opweeg en nugter daaroor dink en besin.

Ek is nou amper 21 weke swanger en oral lees ek dat vrouens wat swanger is met meerlinge, gewoonlik bedrus kry. Daar is verskillende tipes, maar die bekendste is seker maar dat jy net mag opstaan om toilet toe te gaan. Indien die dokter egter van mening sou wees dat jy dit nie sal gehoorsaam nie, word jy in die hospitaal opgeneem waar ‘n wakende oog die heeltyd oor jou gehou word tot en met die geboorte van die tweeling.

Dit sal beteken dat ek vir maklik 10 tot 12 weke in ‘n Staatshospitaal sal moet lê wat beslis nie ‘n aangename gedagte is nie. Volgens al die inligting wat ek kon insamel vandat ek uitgevind het dit is ‘n tweeling, blyk dit dat die beste is om teen 28 weke reeds op te gehou werk het en te sorg dat jy jou so stil as moontlik gedra met tye van bedrus.

Daarom dat ek einde Mei gaan ophou werk, want dan is ek 26 weke swanger en het my werkgewer genoeg tyd gehad om iemand in my plek aan te stel. Want ja, ek sal alles binne my vermoë doen om te verhoed dat hierdie tweeling vroeg gebôre word. Blykbaar is jou kanse beter om hul voltermyn te dra as jy jou teen 28 weke stilhou, want elke week na 28 weke is ‘n bonus.

Wat verder die van die huis af werk aanbetref, ek voel al reeds so ongemaklik soos toe ek omtrent voltermyn met my laaitie was. My maag het al meer as 20 cm gerek en ek kan nie meer my skoenveters vasmaak nie! Ek kan ook nie vir lang tye sit, staan of loop nie en ‘n rekenaarstoel is nou nie juis van die gemaklikste stoele wat mens kry nie – tensy jy dan nou seker duisende rande het om aan een te spandeer…

En as die tweeling eers hier is, gaan dit byna ‘n saak van onmoontlikheid wees. Aangesien hulle nog nie hier is nie, het nie een van ons werklik ‘n idee hoe dit gaan wees nie, maar uit wat ek gelees het en by mammas met tweelinge gehoor het, kan ek my die volgende voorstel:

Ek beplan om te borsvoed. Dit beteken voeding op aanvraag of elke twee uur wat min of meer daarop neerkom dat jy 8 tot 10 keer per dag moet voed. En dit is as jy albei gelyk kan voed. Wat as ek alleen by die huis is en hier nie iemand is om te help om die tweede een aan my bors te sit nie? Dit sal beteken 16 tot 20 voedings per dag!

En behalwe dat hulle sal moet drink, gaan daar winde wees om uit te vryf, doeke om te ruil, hulle gaan gebad of gewas word en aangetrek moet word, hulle wasgoed sal gewas moet word, hul beddegoed vervang word en hulle aan die slaap gemaak word. Daar sal ook tye wees wat hulle aandag nodig het (liefde!!!), want babas leef nie net van melk, slaap en skoon doeke nie!

 

Aan die anderkant moet ek self tog ook eet en bad en aantrek en slaap wanneer hulle slaap – wat my nie laat dink ek baie daarvan gaan kry nie, want ek sukkel om aan die slaap te raak, so teen die tyd dat ek slaap, is hulle al weer wakker…

Dan is hier ook nog ‘n ander laaitie wat van sy mamma se tyd nodig het en ‘n man wat nie baie daarvan gaan hou om nooit aandag te kry nie.

Indien jy egter vir my kan sê wanneer ek tyd sal kan inruim om te werk om ‘n inkomste te verdien, doen ek dit met graagte…

So maak ek ‘n lappop

Published April 13, 2011 by Xanika

Spesiaal vir Ilze:

1.  Knip alle patroondele uit.

2.  Teken & verf gesig. 

3.  Trek strepe vir hare (net reguit in middel van agterkop, insetsel en ± 3 cm van voorkop, ek werk hare net op die middelpadjie).

4.  Werk voor- & agterkop aan insetsel vanaf middelpunt ± 4 – 5 cm aan weerskante.

5.  Knip tot teen naat weerskante van middelpunt, ± 3 cm vanaf middel aan weerskante en ryg nate plat tussen kepe. 

6.  Werk agterste & voorste pylnate, knip en ryg plat. 

7.  Knip hare in regte lengtes en werk vas. 

8.  Werk nou res van voor- en agterkante van kop aan insetsel, knip waar nodig en ryg nate plat (druk ± helfte van hare in kop om laaste naat te kan werk).

9.  Dop kop om. 

10. Werk skouernate vanaf middel tot ± 2 cm van kant van lyf af.

11. Knip ± 1 cm vanaf einde van stikwerk en ryg plat. 

12. Steek kop en lyf aan mekaar en stik (verkieslik 2x). 

13. Stik arms, knip en ryg nate plat. 

14. Dop arms om en stop op.

15. Steek en werk arms aan lyf vas (voor en agter en stukkie van skouernaat wat nog nie gewerk is nie) en ryg nate plat.

16. Stik bene, knip en ryg nate plat.

17. Dop bene om en stop op.

18. Steek en werk bene aan voorkant van lyf vas.

19. Stop kop en lyf op.

20. Werk pop toe met die hand.

21. Maak hare vas (ek vat ‘n string wol en steek dit deur die kant van die kop ± 2.3 cm vanaf nek en maak eers daarmee vas voor ek linte insit).

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 28 other followers