Ons tweeling is toe op Woensdag, 17 Augustus 2011 gebore.
Op Dinsdag, 16 Augustus moes ek weer kliniek toe gaan vir my maandelikse swangerskapsondersoek. Nog elke keer wanneer Lizzy, die verpleegster of wat sy ookal mag wees, my bloeddruk geneem het, was dit hoog (180 / 100), maar wanneer ek dan by die suster kom en sy dit weer neem, is dit normaal. Dit was later nie eens meer vir my snaaks nie, almal aan wie ek dit genoem het, het opgemerk dat Lizzy nie kan bloeddruk neem nie! En hulle het elke keer iets gekry om mee fout te vind, so ek was elke keer op my senuwees as ek moes kliniek toe gaan en glo dit was die rede vir my hoë bloeddruk.
Ek kan net noem dat ek ook een keer ‘n maand na ‘n privaatdokter gegaan het en my bloeddruk daar elke keer normaal was!
Toe ek egter verlede Dinsdag by die suster instap, noem sy dat sy gehoor het die staatshospitaal het ‘n beleid dat alle tweelinge per keiser gebore word en dat hulle jou nie die kans gun om normaal te probeer geboorte skenk nie. Ek was sommer op die plek omgekrap en toe sy my bloeddruk neem, is dit 150/ 110! Sy het my dadelik na die hospitaal gestuur om ‘n dokter te gaan sien.
By die hospitaal aangekom, was my bloeddruk nog hoër – die onderste telling was 127! Hoe meer ek probeer verduidelik het dit is omdat ek my ontstel het, hoe minder wou hulle luister en het die dokter my net daar in die hospitaal opgeneem en is ek dadelik medikasie gegee. Ek het wel uitgevind dat hulle geen probleem het daarmee dat ‘n tweeling normaal gebore word nie – hetsy daar nie komplikasies (soos hoë bloeddruk!) is nie…
Ergste van dit alles is dat my man nie eens by was nie! Hy wou so graag die Maandag al gaan visvang het, maar as gevolg van sneeu kon hy nie. Hy was van Maandag af met verlof in afwagting op die tweeling se geboorte. My skoonpa se vrou het my dus kliniek en hospitaal toe geneem en kan sy so uitputtend wees dat dit enigiemand se bloeddruk nog meer sal laat styg!
Na nie baie lank nie het hulle weer my bloeddruk geneem en was die onderste telling reeds onder 90! Dit was vir my genoeg om te glo dit was bloot net oor ek my ontstel het en nie oor dit enigiets met my swangerskap te doen gehad het nie.
Daarna het ‘n ander dokter my besoek en het ek haar gevra of dit in orde sal wees as ek saam met my man huistoe gaan sodra hy by die hospitaal aankom – hy was in tussen inderhaas oppad terug – en het sy ingestem omdat my bloeddruk so gedaal het.
Ek het toe saam met hom huistoe gegaan en my goed gaan kry en het dit net vir my beter gevoel dat hy my hospitaal toe vat. Hy het tot laat by my gebly en was ek maar baie emosioneel en hartseer toe hy moes ry.
‘n Hospitaal is glad nie juis slaapvriendelik nie! Die laaste suster was na 23:00 by my, want dan wil hulle na die babas se hartjies luister en dan wil hulle my bloeddruk neem en dan is dit dit en dan is dit dat! En toe ek uiteindelik kan slaap, toe begin ek kontraksies kry!
Ek het besluit om nie dadelik ‘n suster te roep nie en het so aangesukkel tussen probeer slaap en kontraksies tot een ± 24:40 kom kyk het of alles reg is. Ek het aan haar genoem dat ek kontraksies kry en het sy my ondersoek om te kyk of ek wel in kraam is en was ek reeds 5 cm ontsluit.
Ek is saam met haar na die kraamteater en het haar gevra of ek solank my man kon laat kom. Sy het gesê dit is reg, want al kon ons nie met sekerheid weet hoe lank dit sou neem voor die babatjies gebore word nie, was dit moontlik dat dit baie gou kon gebeur.
Ek het toe probeer om hom te bel, maar kon hom nie wakker kry nie. Ek het toe maar my ma gebel, want sy is ‘n ligte slaper, maar sy was in elk geval wakker. Na ‘n ruk – wat vir my soos ‘n ewigheid gevoel het! – het my man by die hospitaal aangekom en het die lang wag begin.
By tye het ek bietjie geloop en dan was die pyne meer hanteerbaar, maar was daar nie meer veel energie in my oor om dit te kon volhou nie en moes ek ongelukkig lê. Teen die tyd dat die nag en dag personeel skofte geruil het, was ek reeds 8 cm ontsluit en wou hulle my water breek, maar het ek gevra dat hulle net nog ‘n rukkie kans gee.
Teen ongeveer 8:00 het hulle toe wel my water gebreek, want ek was toe reeds 9 cm ontsluit. Na 9:00 was ek ten volle ontsluit, maar toe was die kontraksies nie sterk genoeg dat ek wou of kon druk nie en al weet ek nie hoe ek dit verstaan het nie (al die personeel behalwe vir die vrouedokter, is anderskleurig) het ek die afleiding gemaak dat die dokter vir die suster gesê het om my reg te maak vir die teater.
Ek dink nie ek het al ooit in my lewe so gebid soos toe nie, want al het ek net oomblikke vantevore vir my man gesê ek kan nie meer nie, wou ek beslis nie na amper 9 ure se kontraksies en die breek van my water gaan vir ‘n keiser nie!
Gelukkig het die suster tot my redding gekom deur die dokter te vra om haar eers ‘n kans te gee. Sy het vir my ‘n drup en induksie gegee en seker nie 5 minute later nie, toe lê die eerste baba op die bed.
Ek moes op my sy lê sodat die suster die drup kon insit en toe die pyne begin, het sy gesê ek moet op my rug draai. Ek wou nog my man vra om my te help, maar hy was nie daar nie! Die suster was nie by my nie en wou ek nog weet wat gaan aan, toe voel ek net nou moet ek druk! Die suster sit toe klampe aan die naelstring en knip dit en toe kom my man weer ingestap. Al wat ek kon sê, was “Liefie!”
En toe kry ons ‘n verrassing: ons seuntjie is ‘n dogtertjie! Die suster het dit vir my gewys en haar op my bors neergelê vir ‘n oomblik.
Die suster het toe gevoel hoe ver is die ander een en het gesê sy is naby en lê ook reg (ons het dit egter geweet, want met die laaste paar sonars het albei kop ondertoe gelê en het die dokter ook die vorige middag ‘n sonar geneem om na hulle te kyk) en dat ek kan druk om haar uit te kry.
Weer was net een druk nodig om die hele babatjie op die bed te laat lê en is ons tweede dogtertjie om 10:10, slegs 10 minute na haar sussie, gebore.
Ek het gevra dat haar pa haar naelstring kon knip en al was die suster aanvanklik huiwerig, het sy toe tog ingestem dat hy dit doen. Weer is vir my gewys dit is ‘n dogtertjie en is sy vir ‘n oomblik op my bors neergelê.
Na daar na hulle gekyk is, is hulle broeikas toe en moes ek die plasentas uitdruk en ‘n skeur toegewerk word (wat natuurlik die gevolg was van die vinnige geboortes). Gelukkig het die twee plasentas saamgegroei en hoef ek dus net een uit te gedruk het – wat byna so groot soos een van die babas was! Die toewerk van die skeur was aaklig en het dit gevoel of die suster nooit gaan klaarkry nie.
Daarna het ek opgestaan en kamer toe geloop, my goed gekry om te gaan bad en ‘n vinnige bad gaan vat. Ek sou veel eerder wou stort, maar die stort se water wou nie warm word nie en moes ek maar bad.
Toe ek klaar gebad het, het ek en my man na die babakamer gegaan om ons babas te gaan haal. Hulle was nog nie aangetrek nie, maar het hy solank ons eersgeborene vir my gegee om te kyk of sy sal drink. Sy het seker so 10 sekondes rondgesoek en toe die tietie gevat! In tussen het ‘n verpleegster ingekom om die ander enetjie te weeg en aan te trek en toe sy klaar was, het sy die oudste by my geneem om te weeg en aan te trek en kon ek die jongste probeer voed. Sy het sommer dadelik die tietie gevat en begin suig! Ek was so bly en dankbaar dat dit so maklik was, want destyds met die laaitie het ek baie gesukkel.
Nadat altwee geweeg en aangetrek was, het ons hulle na my kamer geneem waar hulle die nag saam met my op ‘n enkelbed moes slaap! Gelukkig was die een bed teen die muur, anders sou ek die hele nag nie ‘n oog toegemaak het nie. Nie dat ek juis geslaap het nie, wou net die hele tyd vir hulle kyk!
In tussen moes ons ‘n naam kry vir ons eerste dogtertjie en het ons besluit om net die name wat ons sou gebruik vir ‘n seuntjie, na die vroulike te verander en het ouboet haar noemnaam voorgestel.
Ons eerste dogtertjie het 2.41 kg geweeg by geboorte en is 45 cm lank. Haar apgar tellings was 8/10 en 9/10. Sy het donkerbruin hare en krom pinkies nes my pa, ek en ouboet. En haar regteroortjie het ‘n effense kepie aan die bokant. Sy lyk redelik baie na haar ouboet en het die kleinste ou mondjie.
Ons tweede dogtertjie het 2.53 kg geweeg by geboorte en is 50 cm lank. Haar apgar tellings was 9/10 en 10/10. Sy het rooi/blonde hare en ook krom pinkies nes my pa, ek en ouboet. En die suster het opgemerk sy lyk nes die pa! Sy lyk baie na my man se broer se seuntjie (en sy 3 maande oue sussie het by geboorte net soos hy gelyk). Haar velletjie is ook donkerder as haar sussie s’n.
En dis die verhaal van ons tweeling se geboorte, mamma se twee prinsessies!






Baie geluk! Bly jy kon jou normale bevalling gehad het!
Baie dankie turksvy.
Ag wonderlik! Baie geluk!!!!Ouboet gaan sy oppaswerk moet ken wanneer die kerels eers begin kuier…
Baie dankie Twilight. Ja beslis – pa dreig klaar om ‘n haelgeweer of twee aan te skaf!
Xanika, BAIE GELUK met jou twee pragtige dogtertjies!!! Ek’s seker jy gaan hulle nog baie geniet en ook trots wees op hulle. Het nog altyd geglo elke dogtertjie moet ‘n lappop hé en nou kan hul eie mamma vir hulle elk die mooiste ene maak…..natuurlik wanneer daar tyd is. Geniet hulle!
Baie dankie Anlou. Ek wil baie graag vir elkeen ‘n lappop maak ja, weet net nie wanneer sal daar tyd wees nie!
Baie geluk met die tweeling. Ek het heel toevallig op jou blog afgekom, het dankie-sê kaartjies gesoek. Ek geniet jou sê-goed baie. Jy moet ‘n boek skryf. Dit voel of ek jou al jare ken. Ons tipe mens. Wens jy was my buurvrou ons sou lekker gelag en gekuier het so tussen die kind groot maak deur. Groete Loo
Baie dankie Loo!