Die twincessies – 65 dae oud

Vandag kan ek eerlik sê dit gaan goed met ons, behalwe dat ek kan doen met ‘n bietjie meer slaap!

Die laaste paar weke was vir my baie erg en ek het teenoor almal wat wou luister genoem dat babas eintlik vreeslike goed is, al wat hulle doen is drink, poep en skree!

Dit het my heeltemal begin onderkry. Sommige dae het dit vir my gevoel of hulle net heeldag wil drink en kry ek nie kans om te eet, bad of selfs te piepie nie!

Met die twins se 6 weke besoek aan die kliniek, was Lala amper ‘n kilogram ligter as Bekkie. Die suster het net gesê ek moet sorg dat sy elke 2 ure drink en was nie daarvoor te vinde dat ek uitmelk nie, want dit veroorsaak “nipple confusion”.

Verskoon my, maar hulle drink soms meer gereeld as elke 2 ure en dis nie verwarring nie maar voorkeur en as jy die regte botteltiete gebruik (soos Nuk wat vrek duur is) behoort jy nie daardie probleem te kry nie. Ek het my laaitie met groot sukses aan die bors en bottel laat drink.

Ek het toe besluit om vir Lala formulemelk te gee – maar sy sou steeds aan my ook drink. Aanvanklik was dit 3 bottels ‘n dag en dit was nie baie lank nie, toe verskil die twins 500 gram!

En daarby was Lala se velkeur nou dieselfde as die van Bekkie en die blou kringe om haar ogies weg! Dit het my laat wonder of sy nie ook, nes ek, sukkel met bloedarmoede nie. Ek het egter toe vir haar net 2 bottels formulemelk ‘n dag begin gee, want dit wou voorkom of sy beter suig wanneer sy aan my drink.

Maar van Sondag af het ek toe besluit om haar net 1 bottel formulemelk ‘n dag te gee, want die geldjies is maar skraps.

Maandagmiddag het ek byna nie oorleef nie. Die twins het byna die hele middag omgeskree en niks wat ek gedoen het, wou help nie. Ek het Sondagaand springmielies met suiker verorber en tot die gevolgtrekking gekom dat dit die probleem was.

Woensdagoggend het die twins 1:00 wakker geword om te drink en het Lala nie voor 5:00 weer geslaap nie. Ek was op my einde! Het haar selfs 65 ml borsmelk uit ‘n bottel laat drink wat sy afgesluk het asof sy nog nooit kos gekry het nie. Ek was egter op daardie stadium nie by genoeg om te besef dis oor sy nie genoeg melk uit my uit kry nie!

Woensdagaand het sy eers aan die slaap geraak nadat sy in 2 en ‘n half uur se tyd 2 bottels van 100 ml elk uitgedrink het!

Dit is toe dat ek besef my kind is permanent honger en dis hoekom sy permanent wil drink. Ek het toe besluit om haar formulemelk te gee wanneer sy ookal daarna sou vra om te drink en vir Bekkie rooibostee tussen voedings te gee.

Verder tot die bloedarmoede storie het ek ook my eie teorie. Daar word gesê dat babas met genoeg yster gebore word vir die eerste 6 maande en dat hulle sowat 50 % van die yster wat hulle nodig het, van borsmelk kry. Indien die ma egter sukkel met bloedarmoede en die baba ook, kan dit dan nie tot gevolg hê dat die baba in die eerste plek met te min yster vir 6 maande gebore word nie? En verder dat daar nie genoeg yster in die mamma se melk is om die daaglikse behoefte in te kan voorsien nie? Bekkie lyk en aard meer na haar pa en Lala lyk en aard meer na my. Indien dit dan ook die geval is dat sy nie bloedarmoede het nie, kan dit verklaar waarom sy floreer op my melk (tesame natuurlik met die feit dat sy baie sterker drink as Lala) en Lala meer nodig het as om net aan my te drink.

Ek het Woensdag opgelet na hoe die twins drink. Bekkie suig en sluk, suig en sluk. Somtyds suig sy 2 keer en sluk dan, maar nie meer as 2 keer nie. Lala suig meestal 3 keer voor sy sluk, sommige kere selfs 5 keer! Dit laat my dink sy suig te swak en die “let down” refleks tree nie in werking wanneer sy drink nie, met die gevolg dat sy permanent wil drink. Daarom dat sy wel nat en vuil doeke gehad het, maar so bleek was en nie na wense gewig opgetel het nie. Dis my mening en ek mag verkeerd wees, maar sy was nooit in so ‘n toestand dat dit nodig was om ‘n dokter te gaan sien of so iets nie. En as ek reg is oor die bloedarmoede, is die formulemelk in elk geval vir haar beter. En soos sy nou drink, kry sy “the best of both”.

Want ek wil nie Lala heeltemal van my speen nie! Wanneer die twins in die oggend wakker word (hulle word gewoonlik saam of binne 10 minute na mekaar wakker), drink hulle aan my vir sowat 20 minute (Bekkie drink selde langer as dit en dan weet ek Lala gaan nie al haar energie vermors en aan die slaap raak terwyl sy nie veel gekry het nie en dan nie ‘n bottel kan drink nie) en dan kan hulle elke 3 ure daarna weer aan my drink. Lala kry dan ‘n bottel formulemelk en indien Bekkie wil drink voor 3 ure om is, kry sy rooibostee. Tussen die voedings kry ek dan kans om uit te melk en met slaaptyd drink Bekkie aan my en Lala kry ‘n bottel met moedersmelk. In die nag drink hulle dan ook aan my.

Daarom dat ek vandag weer hoop het vir ons! Bekkie is nie baie erg oor die rooibostee nie, maar dit gaan baie goed en sy het nou al ‘n paar keer eers vir ‘n voeding gehuil as die 3 ure amper om is! En my Lala glimlag al hoe meer en wil begin gesels!

Ek weet daar is baie mense (veral die wat glo “breast is best”) wat van my verskil. Ek glo dit ook, maar op die ou end gaan dit oor wat werk en dink ek ‘n ma wat kan funksioneer is selfs nog belangriker.

Ek kon net nie langer so aanhou nie, en my arme man was seker al moedeloos met sy vrou wat permanent in trane is!

Published in: on Oktober 21, 2011 at 4:10 nm  Comments (6)  

The URI to TrackBack this entry is: http://tekkies.wordpress.com/2011/10/21/die-twincessies-65-dae-oud/trackback/

RSS skakeling vir menings op die blad.

6 KommentaarLewer kommentaar

  1. Sterkte met d tweelingetjie! Ekweet dis baaaaaie werk!

    • Dankie seegogga. Ja dis erg. Hoe gaan dit met julle tweeling?

  2. Ek dink wat jy doen is reg. Jou moederhart sal jou lei om die beste vir die 2′tjies te doen. Sterkte vir julle!

    • Baie dankie Paula!

  3. Goeie genugtig, geen wonder jy is poegaai nie! Sterkte!

    • Baie dankie!


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 27 other followers