Die twincessies – 5 maande oud

Mamma se meisiekinders is sowaar vandag al 5 maande oud. Ek wou so graag gereeld oor hulle blog, maar ag, tyd vir alles is daar net glad nie!

Van al my goeie voornemens om aan te hou borsvoed, het toe nie veel gekom nie. Ek het Wilna heeltemal oorgesit op formulemelk in die dag en haar net snags aan my laat drink en vir Elisna moes ek van so 16 weke af formulemelk ekstra gee, want daar was net nie genoeg melk vir haar nie. Ek het op 18 weke heeltemal opgegee om te borsvoed en het nie eens nodig gehad om pille te drink om my melk weg te vat nie en dit was ook nooit eens vol dat dit seer geword het nie. En twee weke later was daar nie meer ‘n druppel melk nie.

Die twins is op hierdie stadium darem byna ewe groot en is ek bly daaroor, was vir my so sleg dat Lala so baie kleiner was as haar sussie. En op ‘n stadium het sy haar sommer heeltemal verbygevat!

Ons was einde Desember by ‘n pediater met hulle omdat ek net nie verder kon aangaan nie. Die alewige gehuil het my heeltemal ondergekry en was ek van mening hulle het refluks. Hy het egter besluit dis koliek en vir hulle medisyne gegee om hulle te kalmeer…

En eintlik was my ma die hele rede vir die probleem. Sy het besluit hulle moet kos kry, want dis hoekom hulle so baie huil. En as ek nie vir hulle gaan kos gee nie, dan help sy nie verder met hulle nie. Nie dat sy vreeslik help nie, maar dit was die laaste strooi. Ek het net gevoel ek kan nie verder nie!

So toe begin ek maar vir hulle kos gee. En die volgende 2 weke het Elisna elke aand gehuil of sy vermoor word. Toe besef ek eers dis die kos en hou op om vir hulle te gee. En daar is die gehuil ook sommer minder. Hulle het vandag weer vir die eerste keer daarna kos gekry, hoop die keer gaan dit beter.

Ek het ‘n week terug gaan medisyne kry by die apteek vir refluks. Dis vrek duur, maar lyk tog of dit werk. Ek sal sowaar enigiets probeer as dit sal help!

En verlede Maandag het ek weer begin werk. My vorige werkgewer het lankal aangebied om iemand te betaal om na die twins te kyk as ek tog net weer sal werk en ek het toe maar besluit om van sy aanbod gebruik te maak. Ons het ‘n vrou gekry om na hulle te kom kyk terwyl ek werk – van die huis af!

Dis so wonderlik om te sien hoe die klein mensies ontwikkel en hoe hulle verskil. Lala is die moeiliker een van die twee, wil heeldag in die arms wees en huil oor alles. Maar glimlag baie makliker as Bekkie. Sy rol al, maar verkies om op haar rug te lê en met haar voete te speel. En Bekkie rol en probeer kruip. Sy glimlag nie so maklik nie en skree as jy nie gou genoeg aandag gee nie. Albei het ook al begin om hard te lag, maar Bekkie verkies die laaste tyd om te gil.

Soms raak hulle vir my net te veel, maar ek is vir hulle so baie lief en sal hulle vir niks verruil nie!

NS: Met my bruinoogseunskind gaan dit darem ook baie goed, ek voel net so jammer vir hom oor ek hom so afskeep. Hy begin more met Graad 5.

Published in: on Januarie 17, 2012 at 8:08 nm  Comments (3)  

The URI to TrackBack this entry is: http://tekkies.wordpress.com/2012/01/17/die-twincessies-5-maande-oud/trackback/

RSS skakeling vir menings op die blad.

3 KommentaarLewer kommentaar

  1. ai, Sterkte met die tweetjies. Dit klink of hulle mooi ontwikkel. Gelukkig dat jy van die huis af kan werk en darem ogie oor die oppasser ook kan hou!

  2. Hulle al drie is pragtige kinders. :-)

  3. Sjoe Xanika, ek sien ek het hier by jou ook baie om op te vang! Jou meisies is te pragtig!!


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 27 other followers